Braaidag: Vonke van verbintenis
- Marieke Wiggett
- Sep 24
- 2 min read

Indien jy enige Suid-Afrikaner vra wat gebeur op 24 September, sal jy ’n entoesiastiese “Braaidag!” as antwoord kan verwag. Op hierdie dag word die vure gestook en vlieg die tamatie en kaas soos wat braaibroodjies gesmeer word. Hierdie dag gaan minder oor erfenis op papier en meer oor erfenis om die tafel. Maar die vraag bly staan: Kan ’n eenvoudige braai werklik ’n hele nasie bymekaar bring?
Braai vorm ’n eenheid van ’n diverse nasie
Sedert 2005 het Braaidag só deel geword van Erfenisdag dat die twee byna sinoniem is. Al is die Reënboognasie hóé divers, praat elkeen van ons die taal van die braai. Aartsbiskop Desmond Tutu het die spyker op die kop geslaan toe hy sê: “Wys my een Suid-Afrikaner wat nog nooit na ’n braai toe was nie.” Of dit nou snoek op die kole of wors op die rooster is, kom almal uit verskillende agtergronde saam om ’n gloeiende vuur.
’n Stukkie van Suid-Afrika
Braai is meer as net vleis oor warm kole, dit is ’n tradisie wat oor grense strek – letterlik. Ons eie Jan Braai het gesê: “In Afrika is die vuur ’n tradisionele plek van samekoms.” Dit is egter so in die buiteland ook. Suid-Afrikaners leef hierdie tradisie in plekke soos Londen, Doebai en Sydney uit deur gereeld ’n bring-en-braai met familie en vriende te reël. Alhoewel 24 September nie oorsee ’n publieke vakansiedag is nie, vier hulle steeds op hierdie dag hul erfenis. Braai is ’n manier om geure en herinneringe van jou tuiste te herleef, al is dit duisende kilometers weg. En kom ons wees nou eerlik; ’n barbeque was nog nooit ’n braai nie!
Vure vir die rekords
In die tuisland gaan braai egter ook oor die rekordboeke: Hierdie jaar het duisende Suid-Afrikaners by Loftus Versfeld in Pretoria bymekaargekom om die Guiness-Wêreldrekord te breek vir die grootste braai. Met meer as 2 500 deelnemers wat gelyktydig oor 420 verskillende braaiers gebraai het, was daar ’n allemintige halwe ton (ongeveer 450 kg) vleis op die kole. Musiek en kosstalletjies het dit in ’n nasionale fees verander, wat weereens bewys hoe diep Suid-Afrika se braaikultuur strek.
Of dit nou in ’n agterplaas in Londen of op ’n sportveld in Pretoria is: Op Braaidag staan Suid-Afrika saam. Elke vonk van die vuur herinner ons aan die warmte wat ons as nasie verbind.




Comments