top of page
  • Zia van den Berg

BOBAASBREIER: 100 WEDSTRYDE AS HOOFAFRIGTER


Mnr Shuan Jackson het die uitsonderlike prestasie bereik om 100 wedstryde as hoofafrigter van die eersterugbyspan op te tree. Wat hierdie mylpaal nog meer spesiaal maak, is dat dit in die eeufeesjaar van Helpmekaar Kollege gebeur het. “Ek is tans al sewe jaar as afrigter by die eerstespan betrokke en ons speel gemiddeld 16 tot18 wedstryde per jaar. Gewoonlik neem dit 5 tot 6 jaar om die 100 wedstrydmerk te bereik, maar COVID het verlede jaar ingemeng en daarom is die 100 wedstryde eers in my sewende jaar bereik.” Hy vertel dat sy seuns sy twee grootste ondersteuners is. “Die jongste is die gelukbringer wat saam met die span uitdraf, terwyl Zander, die oudste, elke keer die ring vir die skopper uitvat.”


Mnr Jackson het self rugby op skool en universiteit gespeel, en selfs vir die 0.19 Leeus uitgedraf, totdat ’n groot kniebesering die einde van sy loopbaan beteken het. “Ongelukkig het ek ʼn groot kniebesering opgedoen en sit nou met vier skroewe in my knie, wat dan ook die einde van my rugbyloopbaan beteken het. Gelukkig kon ek toe by rugby-afrigting betrokke raak.”


Coach, soos van die spelers hom noem, deel ’n paar rituele van die eerstespan voor en tydens wedstryde:

Het julle ʼn gelukbringer en sekere rituele vir elke wedstryd?

Ons het nie ʼn gelukbringer nie, maar ons het baie tradisies en ons eie manier van dinge doen. Ons volg ʼn wetenskaplike benadering en maak ook van ʼn spandokter se advies gebruik. Ons eie resep is soos legkaartstukkies wat op die einde inmekaarpas om ʼn mooi prentjie te vorm.

Is daar spesifieke peuselhappies of kosse wat die span voor en tydens die wedstryde eet?

Twee ure voor die wedstryd is daar ʼn spesifieke kos wat geëet word. Dit bestaan uit groot plaatkoekies, wat Oom Chris van Niekerk by die koshuis vir ons bak, met grondboontjiebotter, stroop en piesang daarby. Wanneer ons op toer is, sit ons die tradisie voort deur pannekoeke te koop.

Wat is die geheim agter Meneer se baard wat so kom en gaan?

Die baard is alles deel van ʼn weddenskap met die seuns om hulle gemotiveerd te hou. Solank as wat die span wen, sal ek nie skeer nie!


Is daar sekere wedstryde wat uitstaan bo die ander?

Die drie finale wat ons gewen het sal altyd uitstaan, maar elke wedstryd met die span sal eendag deel vorm van my storie wat ek as afrigter kan vertel. Die seuns en die stories agter elke wedstryd maak elke wedstryd spesiaal.


Het julle spesifieke rituele voor ʼn wedstryd in die kleedkamer?

Ons as afrigters praat voor elke wedstryd met die span in die kleedkamers, daarna gaan ons uit en dan begin die drie kapteins die span motiveer. Die spanliedjie word ook onder andere gesing.


Is daar ʼn spesifieke wedstrydplan vir elke wedstryd?

Daar gaan baie moeite, beplanning en huiswerk in elke wedstryd in. Ons het ʼn idee van elke skool se spelstyl en probeer dan alternatiewe skuiwe uitwerk. Die wedstrydplan word volgens die ander spanne se sterkpunte uitgewerk. Die hele wedstrydplan is ʼn skaakspel teen die ander span se afrigter. Ons het gemiddeld 5 tot 7 verskillende wedstrydplanne per wedstryd wat ons gemiddeld elke 10 minute afwissel, afhangend hoe die spel verloop.

Related Posts

See All
bottom of page