top of page
  • Coenraad Olivier

Bekende bekoor in buiteland




Amarillie is ’n bekende en bekroonde harpspeler wat al vir prinse gespeel en konings beïndruk het. In 2020 is sy onder andere as die New York Stars Illustrated se vroulike musikant van die jaar aangewys. Sy is getroud met die bekende trekklavierspeler, Sergio Zampolli. Amarillie is ook ’n liefdevolle en geliefde musiekonderwyser wat les gee in harp, klavier en trekklavier. Sy is die uitvinder van die pedaalvertooneenheid wat die ingewikkelde pedale van die harp vir die speler duidelik aandui. Sy is borrelend, entoesiasties en positief, ’n lekker mens by wie jy net jouself kan wees.


Volgens Amarillie was die lewe in Helpmekaar sorgvry en vrolik. Sy het blywende vriendskappe gesluit en het vandag steeds kontak met van haar skoolmaats. Destyds, wanneer iemand verjaar het, het hulle blomme op daardie meisie se baadjie vasgesteek en só die dag spesiaal gemaak. Nog ’n spesiale tradisie was om op lentedag gewone klere aan te trek, terwyl die onderwysers die meisies se skoolklere moes dra.


Sy het aardrykskunde gehaat, maar haar gunstelingvakke was Frans en Duits. Sy vertel met ’n vonkel in die oog dat sy nooit stokkiesgedraai het nie, behalwe wanneer sy doodseker was dat dit tydmors sou wees.


Dis verbasend hoeveel dingetjies deur al hierdie jare dieselfde gebly het. Die skoolkoerant het toe as die Helpieflits bekend gestaan, met die slagspreuk, “Belê in die kultuur van jong Suid-Afrika – belê in ’n Helpieflits!”


Reeds in daardie jare was daar graadvoogde of standerdvoogde, soos dit destyds genoem is. Amarillie se standerdvoog was me Stapelberg, vir wie hulle baie lief was, alhoewel hulle ook dikwels met haar die draak gesteek het.


Amarillie onthou met dankbaarheid die geleenthede wat Helpmekaar vir musiekleerlinge gebied het: “Ons hoof, me Pretorius, was ontsettend pro-kuns en het alles wat musiekleerlinge gedoen het, ondersteun. Ek sou nooit so baie vryheid van beweging in skooltyd kon hê in ’n ander skool nie.”


’n Groot musiekhoogtepunt was toe sy in haar matriekjaar die Drakensbergse Seunskoor in konserte regoor die land begelei het. Hulle het ook ’n plaat gemaak. Sy het selfs nog die toestemmingsbriefie van die standerdvoog, me Stapelberg, sodat Amarillie die skool vroeër kon verlaat vir die opname van die plaat. (Nog iets wat nooit verander het nie.)


Bekendes wat saam met Amarillie die Helpie-pad gestap het, is onder meer die violis, Zanta Hofmeyr, en die bekende TV-persoonlikheid, Janie du Plessis. Amarillie was so opgewonde oor die Dis100-fees dat sy spesiaal ’n verwerking van die skoollied gedoen het.


Related Posts

See All
bottom of page