Anja Burger (matriek, 2013) slaan die spyker op die kop as dit kom by die bestuur van die Suid-Afrikaanse staan-roeispan. Die span het al verskeie groot titels verwerf; hulle het onder andere in 2021 die wêreldbeker gewen.
In Anja se matriekjaar het een van die groot SUPSA (Standup-Paddling South Africa) handelsmerke demonstrasiedae by die Emmarentiadam gehou. Anja sê sy het een dag net daar opgedaag en gevra of sy ook kan probeer en dat die gogga haar daar gebyt het.
Na skool gaan swot sy BCom Bedryfsielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch en daarna verwerf sy ’n honneursgraad in Bemarking by die IMM-Graduate School. Haar voltydse werk is om bemarking van besighede te hanteer. Die bestuur van die SUPSA-span is dus ’n ekstra “passie-projek” waaraan sy begin werk het toe sy in 2018 teruggetrek het Johannesburg toe. Die Gauteng-verteenwoordiger van die SUPSA-span het destyds vir haar gevra dat sy vir hom sal instaan by een van die SUPSA-vergaderings. Kort daarna word sy Gauteng-verteenwoordiger, toe media- en bemarkingsbestuurder, toe sekretaresse en toe word sy die amptelike president en span-bestuurder van SUPSA.
Om die span te bestuur behels die voorbereiding van die atlete, die selektering van atlete, die voorbereiding vir wêreldkampioenskappe en om dan saam gereed te staan by die wêreldkampioenskappe. Anja moet die proses saam met ’n komitee vasstel oor hoe atlete geselekteer sal word, dan moet sy die selektering fasiliteer en ook die proses vorentoe vat tot die atlete hulle Protea-baadjies met trots kan dra. Sy staan hulle by met Wêreldkampioenskappe waar hulle na ’n ander land moet reis, waar sy ook onder andere die visas uitsorteer en al die kommunikasie aan die atlete oordra. Die werk as spanbestuurder is dus nie maklik nie, maar gelukkig skrik Anja nie sommer vir koue pampoen nie!
Staan-roei is natuurlik beperk tot water en is groter op die kus waar atlete ook kan SUP-Surf. Die sport het ongelukkig ’n bietjie kleiner geword na COVID, maar sy vertel dat hulle is besig om dit weer te laat groei en het gereeld sosiale funksies om die sport voor te stel aan nuwe mense.
Anja verduidelik dat die atlete geleë is van Johannesburg, Oos-Londen, Kaapstad en Durban. Almal het hulle eie voorkeur tussen see, dam, kanale en riviere en volg elkeen hulle eie oefenprogram, maar as spanbestuurder kan Anja-hulle help om addisionele raad by professionele sportsinrigtings te kry.
Die atlete spandeer ten minste een keer elke dag op die water as hulle voorberei vir wêreldkampioenskappe. “Sukses in sport lê in die werk wat jy daarin sit. As jy ’n doelwit het, staan slegs jy in die baan na daardie doelwit.”
Anja vertel dat Helpmekaar haar goed voorbereid het en lesse geleer het: “As gevolg van Helpmekaar se selfaktualiseringskultuur het ek myself altyd gemotiveer om beter te wees as gister - nie beter as iemand anders nie - maar beter as wat ek gister was. Daar is baie geleenthede binne en buite die skool om dag vir dag aan jouself te werk. Jy moet self geleenthede soek om jouself te skep, te groei en te vind.”
Sy vertel verder dat Helpmekaar ongelooflike onnies het en dat sy nooit die trane van die onderwysers op die laaste dag van matriek sal vergeet nie. “Hulle belê regtig hulle harte en koppe in elke kind.”
As ’n boodskap aan leerders wat drome het vir ’n groot toekoms in sport sê sy: “Werk hard, vind en skep geleenthede om deel te neem aan kompetisies of wedstryde, en moet nooit ophou werk aan tegniek nie. Leer van mense wat die sport ook beoefen - daar is ongelooflike mentors reg oor die wêreld. Sosialemediakonneksies is ook baie waardevol.”
Comments