Alumni in aksie: Sportsterre skitter ná skool
- Redaksie
- Aug 27, 2025
- 2 min read

Sport. ’n Groot bron van vreugde, samehorigheid en trots vir enige skool. Helpmekaar spog vir meer as ʼn 100 jaar met uitnemende sportmanne en -vroue. Oud-Helpies, wat vandag steeds baanbrekers in hul sportsoorte is, bewys dat Helpie-waardes selfs ná skool die deurslag gee. Inge Vermaak, Robin Steenkamp en Gabby Rademeyer het meer oor ‘n paar oud-Helpie-sportsterre gaan uitvind.
Giada Prinsloo, uitmuntende netbalspeler en trots van die Helpie-klas van 2022 se talent het reeds op skool die kollig getref, en nou blink sy voort as lid van die o.21-Proteaspan. Op skool het Giada vir twee jaar in die eerste netbalspan gespeel. Me. Louise Hattingh, ervare netbalafrigter, onthou dat Giada “altyd meer as 100%” gegee het tydens ’n netbaloefening, asof sy in daardie oomblik ’n wedstryd gespeel het. Sy vertel verder dat sy werklik haar spanmaats opgebou het en ’n goeie voorbeeld van uitnemendheid vir hulle gestel het. “Ek is geseënd met die prestasies wat ek tot dusver behaal het en hoop dat ek nog vir lank my passie kan uitleef,” vertel Giada.
Spoed, presisie, veerkragtigheid – aksie! Tydens ’n hokkiewedstryd is dit alles faktore wat beoefen moet word om ’n suksesvolle speler te wees. Teshawn de la Rey, oud-Helpie (2022) en uitblinker hokkiespeler, het hierdie vaardighede bemeester.
Teshawn speel tans in Suid-Afrika se 0.21-hokkiespan en het vroeër vanjaar in Maleisië deelgeneem. Op 18 het sy ons land vir die eerste keer internasionaal verteenwoordig. Sy het op skool in Helpmekaar se eerste hokkiespan as ’n voorspeler gespeel. Mnr. Linathi Jacob, hokkie-afrigter, vertel dat Teshawn altyd gekenmerk kon word deur haar selfvertroue, maar dat sy terselfdertyd vreeslik hard gewerk het om haar vaardighede te slyp – ’n wen-kombinasie! Ons sien uit om hierdie hokkie-inspirasie in die toekoms dop te hou.

Oud-Helpie, Lika Strydom (2024) het haar staal as middelafstand- en landloopatleet gewys. In haar matriekjaar behaal sy ʼn plek in die top 10 by die landloop nasionale klubliga. Sy eindig ook tweede in verskeie items, naamlik die 1 500 m, 3 000 m en 5 000 m. Verder spog Lika met die toekenning vir sportdogter van die jaar in 2024. Sy sê dat haar veerkragtigheid en haar vermoë om vinnig ná terugslae te herstel altyd bydra tot haar sukses. Soos sy sê: “Take it in your stride.”
Lika begin haar nuwe avontuur in Augustus by die Universiteit van Appalachian State in die VSA waar sy aan atletiek gaan deelneem. Ons sien uit om te hoor wat sy nog alles gaan vermag.




Comments