top of page

Agter die masker: Die verhoog is haar tuiste

  • Inge Vermaak
  • Aug 28
  • 2 min read
Almay Erasmus as Kayla in die tienertoneel, "Naelstring." Foto: verskaf.
Almay Erasmus as Kayla in die tienertoneel, "Naelstring." Foto: verskaf.

Vir baie is toneelspel slegs fantasie. ’n Masker wat jy dra om op ’n verhoog op te tree. Vir Almay Erasmus, is drama egter ʼn veilige tuiste. Sy is tans in graad 11 en betower ook haar mede-Helpies op akademiese en sportgebied. Inge Vermaak het met haar gesels oor die rol wat toneelspel in haar besige lewe speel.


Van watter ouderdom af doen jy al drama?

Ek het nog altyd ’n liefde vir drama gehad. Hier en daar gedigte voorgedra by kompetisies toe ek kleiner was en my ma probeer vermaak in ons sitkamer. Ek het wel toe ek 13 was met ’n kursus genaamd “speeltoneel” begin, waar ’n klomp kinders van ver en naby bymekaar gekom het om saam te oefen en in toneelstukke op te tree.


Wat beteken drama vir jou persoonlik?

Drama is die plek waar ek myself kan wees, maar ook waar ek ander mense se stories kan leef en verstaan. Wanneer ek optree, voel ek vry. Drama is my uitlaatklep, my passie en my krag. Dit hou my gegrond én  gee my vlerke.


Hoe help die skoolvak, drama, jou met toneelspel?

Dit is ’n groot hulpbron as dit kom by toneelspel. In die klas leer ek nie net oor toneelspel nie, maar ook oor stemgebruik, liggaamstaal en verhoogontwerp, wat alles bydra tot ’n dieper begrip van die kunsvorm.


Waaroor handel die tienertoneel, Naelstring, waarin jy tans die rol van Kayla vertolk?

Naelstring vertel die verhaal van Kayla en haar ma, wat ná haar pa se dood sukkel om mekaar te verstaan en mekaar te vind. Konflik, afstand en onverwerkte emosies breek hul verhouding in stukke. Naelstring is ’n tienertoneel wat eerlik, rou en emosioneel eg is.


Het jy enige raad vir ander tieners wat ook ’n soortgelyke rol in ’n tienertoneel wil vertolk, maar nog nie die rol gekry het nie?

Wees geduldig en volhard. Oefen jou lyftaal en gesigsuitdrukkings gereeld, selfs al is dit net voor ’n spieël. Geniet die proses en moenie bang wees om foute te maak nie.


Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page