Vriendelik, vlytig en vernuftig – só werk mnr. Dylan Meyer
- Neil Robinson
- 9 hours ago
- 2 min read

Mnr. Dylan Meyer is ʼn toegewyde onderwyser, sportster en man van geloof. Neil Robinson gesels met hierdie voormalige sportman en hoofseun (2016) van Helpmekaar Kollege wat nou terugkeer na die Helpies ʼn onderwyser en afrigter.
Wou Meneer nog altyd ’n onderwyser geword het?
Die onderwys was nie regtig ‘n rigting wat ek aanvanklik oorweeg het nie. My pa is in die onderwys, maar ek wou graag ‘n professionele sportman geword het. Ek wou rugby, krieket en gholf professioneel speel, maar met afrigting daarby. Toe ek in Australië en Doebai rugby afgerig het, het ek besef dat ek ’n groot passie vir kinders het en dáár het my pad in die onderwysrigting begin. Ek glo dat alles vir ‘n rede gebeur en jy weet nie wat die Here vir jou beplan nie, so ek sou niks aan my loopbaan wou verander nie.
Wat is uniek aan Meneer se manier van skoolhou?
Ek dink nie ek volg altyd die boek 100% nie. Ek dink daar is ‘n manier om met elke kind te werk en elke kind is anders, so ek dink jy pas aan soos wat jy aangaan met die kinders waarmee jy werk.
Is enige van Meneer se onderwysers wat vir Meneer skool gegee het steeds hier?
Letterlik driekwart van die onderwysers wat vir my skool gegee het, is nog hier. Ek het nog ‘n foto in ‘n paar van hulle klasse met my matriekbaadjie aan. Dit is eintlik baie lekker om saam met hulle te werk. Daar was reeds respek in ons verhoudings, maar nou is dit net ‘n meer professionele verhouding.
Watter drie woorde beskryf Meneer se persoonlikheid die beste?
Vriendelik, passievol en gelowig.
Wat is Meneer se nutteloosste talent?
My nutteloosste talent is dat ek binne drie minute vandat ek opstaan en wakker word, reg kan maak en gereed wees om die huis te verlaat. Dit beteken dat ek nie vroeg hoef wakker te word om reg te maak nie.


Comments