top of page
Marnique Hibbert

Vind vreugde in die alledaagse



Covid-19 het almal se lewens gekompliseer. Dit is daarom belangrik om jouself te versoen met ʼn waardering vir die lewe. Die temas van Kom Sit Aan kan ons in hierdie opsig definitief help. Die geestesboek, Kom Sit Aan, deur ds Rudi Swanepoel handel oor kosmaak, eet en ander alledaagse rituele en hoe ʼn bewustelike benadering tot hierdie rituele betekenis en vreugde vir ʼn individu kan bied. In ʼn onderhoud met ds Swanepoel gee hy advies aan Helpmekaar-leerlinge om die struikelblokke van die pandemie aan te durf. Hy verduidelik hoe om sinvol te leef en hoe om die vrugte van hierdie leefstyl te pluk as ʼn tiener.


Kom Sit Aan is ʼn goedvoelboek wat by baie mense aanklank vind, veral in Suid Afrika. Is dit heeltemal haalbaar vir almal om so bewustelik te kan leef of dit net ʼn voorreg vir ʼn paar?

Die blote feit om oor hierdie dinge te kan nadink is ʼn luukse in ʼn land waarin ʼn heeltemal té groot deel van die samelewing van die land van die hand na die mond leef. Terwyl ek geskryf het, het ek die kompleksiteit besef, maar in dieselfde asem is dit ook so dat die teikenmark van die boek wel die voorreg het om die gedagte van bewustheid van kos te kan oordink en te kan oorweeg.


ʼn Deurlopende tema in jou boek is om die eenvoudige dinge in die lewe te geniet en om bewustelik te lewe. Hoe stel jy vir ʼn tiener voor om hierdie geestelikheid of leefstyl te benader?

Die feit is dat ons geseën is met sintuie en waarnemingsvermoë. So, ek dink vir tieners spesifiek is my raad om amper bewus te wees van jou sintuie en wat jou sintuie kan doen. Byvoorbeeld: Ek sién die son is besig om te sak. Ek vóél die kompleksiteit van die stoel waarop ek sit. So, dis amper ʼn vorm van ‘grounding’; om jouself te aard. Daarvoor het ons sintuie. Dit is deel van geestelike dissipline, om te sê – ek gaan nou bewus raak van waar ek is, wie saam met my is en dies meer.


Kom Sit Aan laat ʼn mens wens dat jy tyd kan terugdraai en van voor af só leef. Is dit ooit te laat om te kan begin?

Dis weer ʼn komplekse vraag. Ons is bevoorreg om in ʼn tegnologiese gevorderde tyd te kan lewe waar ons basies ʼn parallelle lewe op die internet kan hê. Byvoorbeeld, ek sit nou hier by ʼn tafel, my rekenaar is oop voor my, my foon is in my hand. Terselfdertyd kan ek na e-posse kyk en oor twee minute kan ek op sosiale media wees. ʼn Mens hoef nie tyd terug te draai nie. Die uitdaging is om balans te vind. Ek het nou die voorreg om weg te breek vir ʼn paar dae. Deel van my wegbreek gaan wees om my foon af te sit vir ʼn paar dae sodat ek kontak met myself kan maak en met die mense rondom my, die

belangrikste mense in my lewe.


"My smeking is: om so ver as moontlik saam te eet. Dit is primêre konneksietyd, primêre verbintenistyd en -plek."

Covid-19 was ʼn tydperk vir onbekendheid vir almal. Hierdie afgelope twee jaar het ook meer vrae as antwoorde opgelewer. Watse advies kan jy vir hoërskoolleerders gee om nie oorweldig te word deur hierdie vrae nie?

In die begin van die pandemie het baie mense gesê dis amper asof ons ʼn “reset”-knoppie gegee word. My gevoel is, en dit is ʼn baie sterk gevoel, dat ons almal nooit weer dieselfde gaan wees nie. Julle gaan altyd terugdink aan die jaar 2020 en 2021 en aan wat alles verander het. Van maskers dra tot fisiese afstand handhaaf. Julle moet baie doelgerig en bewus nadink oor die verandering. ʼn Mens kan nie net dat die lewe mét jou gebeur nie. Jy moet die lewe “tackle” en “engage” met die lewe. ʼn Mens kan nie net sê ek is nou ʼn rat in ʼn groot masjien nie. Jy moet aktief en bewustelik saam met ander sin maak van wat gebeur.


Baie mense voel dalk Godverlate en sonder hoop in hierdie tye en vind dit moeilik om sterk te staan in hulle geloof in die Here. Sommige tieners voel ook so, veral in ʼn toenemende sekulêre wêreld. Hoe sal jy hulle aanmoedig om vas te staan of om weer hoop te kan vind?

So swaar en so donker as wat dit voel in terme van geloof – is dit ook weereens ʼn geleentheid. Die geleentheid is om anders of dieper te begin glo. Tot op hede, op julle ouderdom het julle dalk op ʼn sekere manier geglo. Die taal van byvoorbeeld Hebreërs is die taal van aanbeweeg van melk na vaste kos. Hierdie is ʼn tyd waar ons almal genooi word na vaste kos, na dieper leef, dieper glo.


“Hierdie is ʼn tyd waar ons almal genooi word na vaste kos, na dieper leef, dieper glo."

Watter advies het jy vir tieners om hul vrese en bekommernisse vir die onbekende en toekoms te oorkom?

Vrese en bekommernisse is ʼn groot ding en dis belangrik om dit te herken en om ʼn plek te hê om dit te erken. Dan impliseer daai plek ʼn persoon. Wie is dit? Is dit my ouers? Waarskynlik nie... Is dit my vriende? Meer waarskynlik. Is dit my sielkundige? Dalk. Is dit ʼn onderwyser? Miskien. Maar ek dink dit moet gesê word. Ek dink nie dis goed of genesend om daarmee te loop of om stilweg of alleen daarmee te probeer “deal” nie. Die eerste en belangrikste stap is om iemand te hê om dit voor te sê. Die tweede ding is om net te erken dat die moontlikheid om ʼn front in hierdie tyd voor te hou, is verby. Die sterkste van ons is op ʼn punt waar ons ons onsekerheid kan en moet bekend maak. So kom ons agter dis amper bevrydend om dit wel te erken en dat dit nie iets is wat ons hoef weg te bêre nie.


Ons stel baie van ons mooiste vriendskappe rondom die tafel vas. Wat is volgens jou die belangrikste lewensles in die boek vir tieners om huidige en toekomstige verhoudings te bou?

Die les is om elke liewe keer wat jy kan saam te eet. Moenie enige geleentheid wat jy het om saam te eet, laat verbygaan nie. In ons huis is daar ʼn reël dat geen toestel op of naby die etenstafel mag wees nie. Dis moeilik, maar nie onmoontlik nie. My smeking is: om so ver as moontlik saam te eet. Dit is primêre konneksietyd, primêre verbintenistyd en -plek.

Related Posts

See All

Comentarios


bottom of page