top of page

Van goud tot groen: Die bome van Johannesburg

  • Marli du Preez
  • Oct 1
  • 2 min read

Updated: Nov 6




Wanneer mense aan Johannesburg dink, sien hulle dikwels wolkekrabbers, besige paaie en die ikoniese Telkom-toring. Maar min mense weet dat Jozi een van die grootste mensgemaakte woude ter wêreld is. Met sowat 10 miljoen bome versprei oor die stad, het Johannesburg ’n unieke erfenis geskep: ’n Woud wat deur mense geplant is.

Hierdie bome maak nie net ons stad groener en mooier nie, maar help ook om die lug skoner te hou, hitte te verminder en voëls en insekte ’n plek te gee om te leef. Navorsing wys dat stedelike woude mense se geestesgesondheid versterk omdat groen ruimtes ontspanning bring en spanning verminder. Dit dra ook by tot fisiese gesondheid: Bome koel die stad af en verminder die risiko van hittestres, verbeter luggehalte en parke nooi mense uit om buite aktief te wees. Soos die stedelike bosboukenner prof. Cecil Konijnendijk dit stel: “Ons het bome nodig. Hulle is net so belangrik soos behuising, strate of winkels.”


Johannesburg se bome is egter ook ’n storie van erfenis. In die laat 1800’s is daar ’n groot hoeveelheid bome geplant omdat die goudmyne hout nodig gehad het om die ondergrondse tonnels te stut. Dié praktyk het Johannesburg se dor landskap begin verander en later het hierdie bome die stad gesonder en aantrekliker gemaak. Vandag is dit deel van ons identiteit – ’n bewys dat mense en natuur saam kan bou aan iets groot.

Tydens Erfenismaand vanjaar het Johannesburg City Parks and Zoo saam met die Departement van Bosbou, Vissery en die Omgewing (DFFE) gewerk om nóg bome te plant. Hulle mik om een miljoen nuwe bome te vestig as deel van ’n nasionale vergroeningprogram. Die boodskap is eenvoudig: “My boom, my suurstof. Plant joune vandag.”  (Oftewel: “My tree, my oxygen. plant yours today.”)


Wat kan jy doen?

●   Plant ’n inheemse boom saam met jou skool, kerk of sportspan.

●  Versorg die bome in jou buurt – net water gee maak ’n verskil.

●  Neem deel aan plaaslike veldtogte soos Go Green Go Clean.

● Deel jou boomstories en foto’s op sosiale media met die hutsmerk #MyTreeMyOxygen om ander aan te moedig.


Elke boom wat geplant of versorg word, omskep Johannesburg se “betonwoud” in ’n regte woud. As tieners, kan ons help bou aan ’n stad waar die toekoms nie net staal en sement is nie, maar groen, lewendig en vol asem.

 
 
 

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page