top of page

Oud-redakteurs se terugblik

Die eerste uitgawe van die Helpie-Flitse het in Februarie 1946 die lig gesien. Die eerste redaksie het uit vier lede bestaan, agt bladsye beslaan en is verkoop vir 5c. Sedertdien het baie dinge verander, maar die hartklop van die Flitse bly dieselfde. Die Helpie-Flitse gee aan die Helpies ʼn geleentheid om hul opinie te kan lug en hul kreatiewe denke kan ontwikkel. Die huidige redakteur, Megan Saaiman, gesels met voormalige redakteurs oor hulle tyd by die Helpie-Flitse.




Gawie Nienaber, redakteur 1969, meen dat die lekkerste berigte wat hy geskryf het dikwels nie eers gepubliseer is nie. “Dit was oor ons hoof, mnr Bok de Lange, se dissiplinêre suksesse, maar ons het dit nooit gepubliseer nie!" Hy vertel dat Helpmekaar Kollege hom geleer het van dissipline, maar ook van wat dit beteken om ʼn baken vir die Afrikanervolk te wees. “Ek koester elke oomblik van my dae as redakteur en die presiesheid wat dit vir my geleer het. Ek verlang na my dae in my bruin en goud kleure en hoop dat elke Helpie elke dag voluit lewe!”



Johan Bantjies, redakteur 1983- 1984, vertel in sy dae was kuiers die lekkerste. “In ons jare was die seuns en meisies in aparte skole. So, die kuiers was anders as wat julle dit vandag ken. Ons het in die oggende voor skool geesgevang op die paviljoen, so ook in die namiddag tussen studietyd en etenstyd. Die koshuisbrakke het selfs oorgestap na die meisieskoshuis en gees-gevang saam met hulle. Ons het ook inter-etes gehad van tyd tot tyd.” Hy sê verder dat die Helpie-Flitse ook anders as vandag was. “Dit was meer van ʼn humoristiese blik op Helpies. Daarom kon ons, binne perke, bietjie die onderwysers bykom. Baie ge-wilde insetsels was ook om met ons mede-Helpies te spot. Vir die onderwysers het dit nie altyd sin gemaak nie, maar vir ons was dit baie snaaks omdat ons die storie agter die storie geken het. Dit is vir my wonderlik om te weet dat Helpmekaar steeds ʼn koerant het, want enige instelling, of dit ʼn skool of gemeenskap is, het ʼn nuus-medium nodig



Aleida de Bruyn, redakteur 2018, beskryf haarself as introvert wat deur die Flitse die geleentheid gekry het om haar selfvertroue te bou en leierskapvaardighede te benut, te ontwikkel en om kreatief te dink. “Ek het by die Flitse geleer dat my mening saak maak, geldig is en gelug behoort te word,” sê sy. By die Flitse het sy ook noukeurige tydsbeplanning geleer wat haar tans baie help in haar studies. Sy vertel verder dat haar lekkerste berig ʼn profielonderhoud met Bouwer Bosch was. “Die Helpie-Flitse het my gehelp om selfvertrou te bou om met ander bekende mense ook onderhoude te kan voer.” Hierdie trotse oud-Helpie koester verskeie mooi herinneringe aan die Helpmekaar-ketting. “Die feit dat talle oudHelpies kontak hou, mekaar aanspoor en inspireer dui op hoe sterk die Helpie-ketting werklik is. Ek is dankbaar dat Helpmekaar my geleer het om elke oomblik aan te gryp, want daarsonder sou ek baie uitmis op wat die Bruin Reus op die Bult vir my kon gee!”



Anja Steyn, redakteur 2020, se redakteurs-termyn is oorheers deur Covid-19. “Tydens my matriekjaar was ons ewe skielik in die middel van ʼn pandemie. My gunstelingberigte het ek alles tydens die grendel-tydperk geskryf: hoe Covid-19 die ekonomie beïnvloed asook waarom die inperkings gelig moes word. Die berigte het gegaan oor dinge waarin ek belangstel en dit was vir my lekker om oor gebeurtenisse wat so monumentaal is te skryf. Skoolkoerante is onsettend be-langrik, veral deesdae met sosiale media. Belangrike gebeurtenisse raak vinnig vergete, want daar is aanhoudend nuwe gebeurtenisse wat die nuus kan oorheers. Met Helpmekaar wat nou 100 word, besef ʼn mens hoeveel geskiedenis in die gange en mure van die skool opgesluit is, en ek dink dit is spesiaal om iets uit te gee wat kan agterbly om ʼn storie te vertel.”

Related Posts

See All

Kommentare


bottom of page