Opinie: Moeg en moedeloos na Menlo?
- Redaksie
- 2 days ago
- 2 min read

Die afgelope naweek sit ek saam met ʼn spannetjie Helpmekaar-aanhangers en toeskouers in spanningsvolle afwagting vir die eerste rugbyspan om uit te draf teen Menlopark. Die hoop loop hoog, veral ná ons fantastiese spel en die ongelukkige verlies teen Garsfontein die vorige naweek. Vir ’n kort oomblik val ek terug in my droom van die vorige week – ’n droom van wen, en dit word vir ’n oomblik werklikheid. Die gehalte van die spel in die eerste helfte was uiters hoog, en soos die halftydfluitjie blaas, is ons gemaklik voor.
Die tweede helfte skop af; ons is op die voorvoet en moet net koers hou. Vyf-en-vyftig minute in is die telling 31-15 in ons guns. ’n Verwagte gemaklike oorwinning. Met net twee minute se speeltyd oor maak Menlo die telling gelykop. Die bal – en die wedstryd – is in hulle hande. Teen ’n gedissiplineerde span soos Menlopark se eerstes sal jy nooit as wenner uit só 'n situasie tree nie. Menlo druk deur en sluit die wedstryd af met ’n naelskraap oorwinning.
Die Helpie-aanhangers sit met gebroke harte op die paviljoen ná dié vernederende nederlaag. Ons wonder waar dit fout gegaan het. Die span is ryk aan talent en het waarlik wonderlik gespeel. Ware manne-rugby — hulle het as manne en as span gespeel. Ek, ’n sogenaamde “tradisionele” rugbyondersteuner, sal maar altyd ’n appeltjie te skil hê met die skeidsregter. Maar hy alleen het ons nie die wen gekos nie. As dit nie die spelers (en afrigters), spanspel of die skeidsregter is nie, moet ons onsself afvra waar die probleem lê. Ly ons eerstes aan ’n gebrek aan wenvermoë? Dit sal hulle net die naweek teen E.G. Jansen verkeerd kan bewys en hopelik die verloorreeks breek.




Comments