top of page

Oud-Helpie steeds volksbesit

  • Leah Kloppers
  • Oct 10, 2021
  • 3 min read

Op tienjarige ouderdom verskyn Bernice du Toit vir die eerste keer op televisie en is van toe af volksbesit. Die meeste van ons sal haar seker as Riekie van Orkney snork nie! herken. As die dogter van die akteurspaar, Magda van Biljon en Zack du Plessis, was Bernice bestem vir ’n plek in die dramawêreld. Bernice werk tans by Laerskool Jan Celliers as ’n bemarker en het drie kinders daar op skool. Leah Kloppers gesels met haar oor haar skooldae by Helpmekaar Kollege.

V: Jy was as kind ’n akteur in seker die gewildste Afrikaanse televisiereeks van daardie tyd. Het die kinders op skool jou as Riekie herken?

A: Ja-nee – ou Riekie sal my seker altyd bybly. Die eerste episode is in 1991 geskiet toe ek in graad 4 was. Aangesien dit steeds, 30 jaar later, weer en weer uitgesaai word, bly daardie gesiggie vars in ’n mens se geheue en so was dit destyds op skool. Die blootstelling wat daardie reeks vir my gegee het, nie noodwendig uit ’n drama-oogpunt nie, maar die waarde wat dit tot my lewe toegevoeg het, was en is van onskatbare waarde. Dit was een groot jol.


Bernice du Toit op skool en nou

(Foto verskaf)


V: Hoe voel dit om die dogter van twee Afrikaanse ikone te wees?

A: Jong, vir my is hulle eerstens net Mamma en Pappa. Dat ek baie trots is op hulle en ongelooflike groot respek vir hulle het, is ongetwyfeld. Ek was as klein dogtertjie baie jaloers op die aandag wat hulle aan die publiek moes gee. Dit was nie altyd maklik of lekker nie, maar dit was hul albei se beroepskeuse en as mens terugkyk, onthou jy net die mooi dinge.

V: Het jou ma, wat ook ’n oud-Helpie is, bygedra tot die besluit om Helpmekaar Kollege as hoërskool te kies?

Daardie besluit kan ek regtig nie goed onthou nie. Dit was maar so half vanselfsprekend dat ek Helpmekaar toe sou gaan, want my broer was ook reeds op daardie stadium in die skool. Ook met dié dat my ouers so betrokke was by die destydse privatisering van die skool in 1993 en die feit dat my ma ook ’n oud-Helpie was, was dit, soos ek sê, eintlik ’n uitgemaakte saak ‒ een waaroor ek glad nie spyt is nie.

V: Jou drie kinders is tans in Laerskool Jan Celliers. Sal daar ’n derde generasie na Helpmekaar Kollege gaan?

Sonder twyfel. Ek hoop, glo en vertrou dat Helpmekaar steeds van krag tot krag sal gaan totdat dit ons spruite se beurt is om by die Helpie-familie aan te sluit. Ons oudste, Gustav, is nou eers in graad 3, maar al drie ons kinders is reeds by Helpmekaar ingeskryf.

V: Wat is jou herinneringe aan Helpmekaar Kollege?

A: Sjoe. So baie … die sportgeleenthede, geesvang, standerdtoere en koorkampe – dit staan beslis uit. Ook die lekker tye in ons kunsklas. Ons was maar net ’n paar leerlinge op daardie stadium in die skool. As ek reg onthou, minder as 300 in die hele skool. Uiteraard was die klasse ook yl bevolk en ons kunsklasgroepie in standerd 9 en matriek was ongeveer agt leerlinge. Ons het pouses daar gesit om projekte klaar te maak, in die winter warmsjokolade gemaak en sommer net lekker gesels.

V: Die skoolgronde het oor die jare baie verander. Waar het julle pouses gesit en wat het julle gedoen?

A: Ons het meestal daar voor die snoepie en waar julle ouditorium tans is, gesit, asook op die grasterrasse net voor jy by die parkade kom. Ons het gesels en huiswerk klaargemaak. Vroeër jare het ons meisies soms nog lekker handjie-tennis saam met die seuns gespeel en ons het die betonblokke as bane gebruik.

V: Wat het Helpmekaar Kollege jou geleer wat jy vandag nog koester?

A: Dit het my geleer van deelname, betrokkenheid en lojaliteit. Seker omdat ons ook so min leerlinge was, het almal aan alles deelgeneem. Nooit het dit egter vir my gevoel ek móét aan iets deelneem nie. Die algemene gees onder ons almal was: jy wil, want jy kan.

V: Wat is jou raad vir ’n Helpie van vandag?

A: Geniet die lewe, moenie te veel van ’n tipiese bedrukte tiener wees nie en gee jou ouers so nou en dan ’n stywe druk. Kyk hulle in die oë en sê hoe baie jy hulle waardeer. Ons almal doen dit te min. Gaan soek die vreugde in alles wat jy doen en aanpak. Wees trots, wees sterk en hou vas aan jou waardes en geloof.

V: Het jy enigsins nog kontak met skoolvriende?

A: Ja, met byna 80% van my jaargroep. Ons was seker net iets in die 40 matrieks, maar ons doen werklik baie moeite om in kontak met mekaar te bly. Ons het in 2019 ons 20-jaarreünie gehad en dit was een groot fees. Ons almal is so opgewonde oor die 100-jaarvieringe wat hierdie jaar gaan plaasvind.

Comments


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page