Oom Manie Duvenage by die afskop van Helpmekaar Kollege se eeufeesvieringe.
Foto: Nikita Venter
Honderd is ʼn besonderse nommer. 100 persent, 100 nie uit nie, ʼn 100 jaar oud… Hierdie jaar vier Helpmekaar Kollege sy honderdste jaar van bestaan en saam vier Oom Manie Duvenage sy honderdste jaar van lewe. Net soos Helpmekaar het Oom Manie Duvenage sy eie uitsonderlike storie. Sy storie begin op 24 September 1921 in Verkeerdevlei in die Vrystaat.
Die jaar is 1938, Manie staan trots voor Helpmekaar Seunskool se hoofgebou in sy bruin en goud. Die skool was baie kleiner toe en die dissipline strenger. Oom Manie vertel van een só ʼn insident wat tot vandag toe ʼn glimlag op sy se gesig sit. “Ons was ʼn stoute klas gewees. Twee kinders wat agter gesit het, het ʼn kontrepsie na mekaar toe gegooi wat elke nou en dan ʼn harde plofgeluid gemaak het. Ek sal nooit vergeet hoe angstig ek op daardie oomblik was toe ons voor mnr Brink in sy kantoor eindig nie. Ons het baie pakslae gekry in daai dae, maar dit het vir ons belangrike lesse geleer.”
In daardie dae was daar voorwedstryde voor groot internasionale rugbywedstryde, waar skole teen mekaar gespeel het. Tydens die 1938-rugbywedstryd waar Suid-Afrika teen Engeland gespeel het, het Helpmekaar vir Parktown Boys’ High tydens die voorwedstryd pakgegee. Hier vind Oom Manie sy liefde vir rugby. Van 1938 tot 1939 het Oom Manie aan beide atletiek en rugby deelgeneem. Hy sê dat hy as ʼn voorspeler begin het en toe agtergekom het dat sy veilige hande en flink voete beter geskik is vir ʼn agterspeler. Die kameraadskap, lojaliteit, tradisie, liefde en lus vir die lewe wat Oom Manie tydens sy skooldae by Helpmekaar ervaar het, vorm die basis waarop Oom Manie sy lewe gebou het.
Na Helpmekaar begin Oom Manie aan ʼn BSC-graad swot. “My vriend het ‘n BA-graad geswot en toe ons vir die eindeksamen begin leer, raak ek verlief op die BA-kurrikulum. Die volgende jaar toe skuif ek oor na ʼn BA-graad toe.” Oom Manie se leergierigheid dryf hom om die onderwyswêreld te betree. Wat Oom Manie as onderwyser en later skoolhoof vermag het, is wat hom alombekend en geliefd, veral in die Wes-Rand, gemaak het.
Natuurlik kort so 'n uitstaande man net so uitstaande vrou. Oom Manie se vrou, Martie du Plessis, stap al ʼn lang pad saam met hom. Die prag paartjie sal in Desember hierdie jaar al 67 jaar getroud wees en deel tot vandag toe hul liefde vir onderwys. Hulle het saam suksesvolle kinders grootgemaak en deel saam in die geluk van kleinkinders en ʼn agterkleinkind. Oom Manie verklaar onomwonde: “Daar is twee rotse in my lewe. Die Woord en my liefste Martie.”Oom Manie vertel dat hy sy hele lewe lank onwankelbaar in sy geloof staan en na sy besige onderwysjare skryf hy dan ook twee boeke oor geloof.
Wat is sy grootste les? “Die wêreld het verander en is besig om te verander. Jongmense moet onthou dat ons vir onsself die antwoord moet gee. As jy in vrede lewe, dan sal jou volk groei en as jy in onvrede lewe, dan gaan jou volk agteruit. Die Here wil hê dat ons moet weet wie Hy is en deur in Hom te glo, sal ons dit regkry om saam te staan, want ons volk is een.”
Sedert die onderhoud vroeër vanjaar is Manie Duvenage oorlede - Red.
コメント