top of page
Chantlize Nell en Aldone Kok

Matrikulante met goud bekroon

Helpmekaar Kollege spog jaarliks met uitmuntende matriekuitslae en 2022 is geen uitsondering nie. Met die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eindeksamenuitslae bewys die matrieks van 2022 waarom hulle die “wyse raadgewers van die Helpie-volk” genoem word. Die 244 matrikulante spog met ʼn 100% slaagsyfer en ʼn gemiddeld van drie onderskeidings per kandidaat. Hierdie besonderse groep leerders het aan die begin van hulle hoërskoolloopbaan ʼn graadgemiddeld van 67% gehad, maar deur harde werk het hulle egter daarin geslaag om op ʼn hoë noot te eindig met ʼn gemiddeld van 74%.


Die matrikulante verwerf ʼn gemiddeld van 73% vir Wiskunde, 75% vir Fisiese Wetenskappe en 77% vir Rekeningkunde. Daarmee saam is die vakgemiddelde vir Afrikaans Huistaal, Engels Huistaal en Engels Eerste Addisionele Taal 77%. Die gemiddelde vir Spaans, Frans en Duits is onderskeidelik 79%, 80% en 82%, ʼn bevestiging dat die klas van 2022 gereed is om hul vlerke te sprei en die wêreld te gaan verken.


Ryan Snyman is die toppresteerder van 2022 met ‘n totaal van 13 onderskeidings. Michaela Staal en André van Graan het albei 10 onderskeidings ingepalm, terwyl Johané Fritz, Keira Lombard, Nico Olivier, Reyneke Jacobsz en Xander Nel almal nege A’s verwerf het. Fritz kan boonop ook spog met 100% vir Wiskunde. Elf matrikulante spog met agt A’s, 12 behaal sewe A’s en 14 matrikulante verwerf ses. Die top 45 studente het altesaam 334 onderskeidings.


Helpmekaar-matrikulante spog ook almal met universiteitstoelating. Nina Germishuysen, hoofdogter van 2022 en Michaela Staal, onderhoofdogter van 2022, sprei hulle vlerke deur Rekeningkunde en Regte onderskeidelik aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. Waldt Human en Estean Bruins gaan op hul beurt weer onderskeidelik Biologiese Wetenskappe en Akturele Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria swot.


Hierdie uitslae getuig van vasbyt wanneer die lewe moeilik raak. “Tydsbestuur en balans tussen sport, kultuur en sosiale aktiwiteite is belangrik, aangesien deeglike beplanning help om by te hou met die vinnige pas waarteen matriek begin,” sê Waldt Human, hoofseun van 2022. Johané Fritz sluit by Waldt aan: “Daar is soveel tyd vir genade en daar is kans om te leer vanuit foute. Daar is ook tyd vir jou om te doen wat waarde toevoeg tot jou lewe. Om matriek deur te maak, is dit belangrik om ondersteuning vanaf vriende en familie te ontvang, maar ook om dit aan ander te gee.” Hierdie eienskappe word alreeds van vroeg af by elke leerder van Helpmekaar Kollege gekweek. Nina Germishuysen beklemtoon hierdie eienskappe wanneer sy sê: “Dit is belangrik om deur te druk en aanhoudend te werk, selfs al word uitdagings ervaar. Dit help ook om te besef dat elkeen deur dieselfde uitdagings gaan.”



Matrieks van 2022 Foto: verskaf

Related Posts

See All

Commentaires


bottom of page