Het ons waardes nog waarde?
- Marieke Wiggett
- Dec 4, 2025
- 2 min read

In ’n wêreld waar tegnologie soos ’n onstuitbare rivier vloei, word ons waardes dikwels meegesleur sonder dat ons dit besef. Wat eens die ankers van ons karakter was – eerlikheid, respek en selfwaarde – begin stadig losraak in die stroom van likes, algoritmes en anonieme kommentaar. Elke klik, elke kunsmatige antwoord en elke gesiglose boodskap skep ’n nuwe realiteit waarin die vraag ontstaan: Het ons waardes nog waarde? Of is dit besig om te verdwyn soos voetspore op ’n digitale strand?
Die gebruik van sosiale media ons eiewaarde afneem. Ons leef in ‘n wêreld waarin mense hulself meet aan hoeveel likes en volgers hulle kry. Volgens ‘n artikel gepubliseer op 5 September 2024 deur Betterhelp, die wêreld se grootste aanlynterapiemaatskappy, vergelyk 87% van vrouens en 67% van mans hulself met ander op sosiale media. Dit lei tot jaloesie, ‘n swak selfbeeld en selfs depressie – dus ‘n afname in ons eiewaarde.
Die ontwikkelling van kunsmatige intelligensie het 'n invloed op integriteit as kernwaarde. In‘n studie gedoen deur die Fakulteit van Onderwys by die Universiteit van Johannesburg, is daar in 88 uit 100 take bewyse gevind van kroekery deurdat studente ChatGPT gebruik het. Kunsmatige intelligensie maak dit al hoe makliker vir leerders om hul waardes te verwaarloos deur nie net oneerlik te wees nie, maar om die vertroue van hul onderwysers ook in te boet.
Laastens laat die gesigloosheid van die internet dit toe vir enigiemand om ander af te kraak. Dis soveel makliker om respek by die venster uit te gooi en afbrekende kommentaar aanlyn te lewer. Navorsing gedoen deur die Pew Research Centre in Washington, toon dat 59% van tieners in die VSA aanlyn geboelie of geteister word. Kuberboeliery kan ‘n slegte selfbeeld, verhoogde angs of selfs geweld tot gevolg hê. Anonieme kuberboelies het beslis hul waardes by die huis vergeet!
Dit is duidelik dat die vooruitgang van tegnologie die agteruitgang van ons waardes veroorsaak. As tegnologie gaan aanhou om ons waardes so aan te tas, sal dit net so uitgedien raak soos die rooksein.


Comments