Helpies gee Jozi krag
- Mia Ainslie
- Nov 6
- 2 min read

Daar steek meer in Helpmekaar se leerders as onderskeidings en geesvangliedjies op die paviljoen. Helpies is planmakers met omgeeharte wat deurentyd wys dat hulle die hoop en krag van Johannesburg is, skryf Mia Ainslie.
Nog voordat Helpmekaar amptelik “die Bruin Reus op die Bult” geword het, het leerders al bewys dat hulle meer as net leerders is. Twee van hulle, Ruth Davies en A.J. Lesing, is onderskeidelik verantwoordelik vir die eerste skooluniform en die skoolwapen wat ons vandag nog gebruik.
Jare later was dit weer twee graad 12’s, Pedro Basson en Reinhardt de Wet, wat ons wêreld vergemaklik het met die Soekmekaar-toep. Vandag vind die Welpies hul klasse in ’n japtrap en ons hoef glad nie meer te sukkel om eksamenlokale op te spoor nie.
Verlede September het 75 Helpies hul verfkwasse en kannetjies bymekaar gemaak om die eens vaal duikweg (die deurloop onder die saal) met ’n bietjie kleur op te kikker. Binne oomblikke het die duikweg – eens net ’n stoorplek – ’n bewysstuk geword dat Helpies mooimaak en regmaak. Alexi Davel (gr. 10), wat by die projek betrokke was, sê: “Helpies het hulle reses opgeoffer en dit wys dat hulle gewillig is om effort in te sit.”
Helpie-hart was weer teenwoordig by 2024 se Crazy Friday toe leeders in hul massas by verskillende ouetehuise in die omgewing opgedaag het om glimlagte en hoop saam met kolwyntjies en blomme uit te deel. Ons geesvangliedjies het weer warm glimlagte na die inwoners se gesigte gebring en met ’n klapsoen hier en daar het elke kind werklik ’n verskil in Johannesburgers se lewens gemaak.
Weekliks reik die skool uit na Hope School, ’n klipgooi van Helpmekaar af. McKenzie Burger (gr. 11) wat gereeld op dié uitreike gaan, deel ’n persoonlike ervaring waar ’n dogtertjie by Hope School vir haar gesê het, “Thank you for spending time with me.” McKenzie glo die uitreike maak van Johannesburg ’n stad “met meer lig en minder donker”.
Ons sien Johannesburg dikwels as ’n stad wat gebreek en vuil is, maar hier op die bult is daar ’n baken van lig: die leerders van Helpmekaar Kollege.
