top of page
  • Leah Kloppers

Die polka-dot trui wink vir Pedri


Pedri Crause (gr.12) is gekies as een van twee juniors om vir die Afrika kontinentale span in Panama te gaan fietsry in ʼn 6-dag wedren. Pedri beantwoord ʼn paar vrae oor sy stokperdjie.


Wanneer het jy begin fietsry?

Ek het in graad agt begin fietsry, maar dit was net vir avontuurwedrenne. Op daardie stadium het ek dit nie ernstig opgeneem nie, maar dit het verander teen die einde van graad nege. Ek het al hoe meer van bergfietsry begin hou en baie verbeter. In graad tien het ek ʼn padfiets gekry – net om fiksser te wees vir bergfietsry. Stelselmatig het ek begin deelneem aan padfietsresies en die taktiek begin geniet. Ek het tydens 2020 al hoe meer padfiets begin ry, versterk en uiteindelik besluit om dit ernstig op te neem.


Wat het fietsry vir jou geleer?

Fietsry leer my om geduldig te wees, want resultate vat tyd en baie harde werk. Ek moet ook mooi dink oor hoe ek my tyd spandeer sodat alle skoolwerk ingepas word. Dit beteken dat gereelde kuiers met vriende in die slag bly. Dit is duidelik dat fietsry ʼn lewenskeuse is, want anders as ander sporte het jy nie ʼn “af”-seisoen nie.


Wie dink jy moes hierdie jaar die Tour de France wen?

Die wenner van 2020 en 2021 se Tour de France was die 22-jarige Tadej Pogačar. Volgens my is dit ongelooflik wat hy regkry en ek glo hy sal volgende jaar weer wen.


Wat is jou drome vir die toekoms?

Daar is drome en daar is doelwitte. ‘n Droom is iets waarmee jy in die wolke hang en net iets beteken as jy dit gebruik om ʼn doelwit te stel. My droom is om eendag in die grootste fietsrykompetisie te ry: die Tour de France. My ma wil ‘n polka-dot trui hê!


Wat is jou raad vir jong fietsryers?

Wees geduldig! Dit vat lank om iets reg te kry. Moet ook nie dit te ernstig opneem nie. Fietsry is ʼn uithousport en jy moet eers ʼn platform bou sodat jou liggaam dit kan hanteer.


Wat motiveer jou terwyl jy ry?

Ek wil my doelwit bereik om professioneel te ry en die wêreld wys dat Suid-Afrika se fietsryers uitmuntend is. Ek dink gereeld aan daardie polka-dot trui wat wink!

Related Posts

See All
bottom of page