top of page

Was jy al in Vilakazistraat?

  • Stella Combrink
  • Nov 16
  • 2 min read
Toeriste draal graag deur die stalletjies in Vilakazistraat. Foto: www.getaway.co.za
Toeriste draal graag deur die stalletjies in Vilakazistraat. Foto: www.getaway.co.za

As jy vinnig kyk, lyk Vilakazistraat in Soweto dalk soos ’n tipiese straat in Johannesburg, maar dis soveel meer, skryf Stella Combrink.



Vilakazistraat is vernoem na die Zoeloe-digter dr. Benedict Wallet Vilakazi. Sy ontroerende gedigte illustreer die lyding wat die mense van Soweto tydens apartheid deurgemaak het asook hul begeerte om eendag as ware burgers van Suid-Afrika beskou te word.


Dit is ook die enigste straat in die wêreld waar twee wenners van die Nobelprys vir Vrede op ’n tyd gewoon het: die vryheidsvegters Desmond Tutu en Nelson Mandela, wat later die eerste swart president van ’n demokratiese Suid-Afrika geword het. Mandela se huis is in ’n museum omskep.


Soos jy deur Vilakazistraat stap, stap jy deur die kultuur van Suid-Afrika. Op elke hoek is daar stalletjies met tuisgemaakte tradisionele kruideniersware, klere en baie meer. Jy word deur ’n singende en dansende groep inwoners verwelkom wat jou nooi om hul geskiedenis en kultuur te beleef.


Hier kan jy egter nie net van ’n afstand af waarneem nie: jy moet die kultuur en erfenis proe. Vilakazistraat se bekendste restaurant, Sakhumzi, bied fenomenale Suid-Afrikaanse disse, soos umngqusho (stampmielies en bone), mogodu (pens) en dombolo (gestoomde brood). Die eienaar, Sakhumzi Maqubela, sê dat sy liefde vir kos en mense hom geïnspireer het om ’n buffet-styl restaurant te begin wat net Suid-Afrikaanse disse bedien. “Ek moes tien jaar werk om genoeg geld in te samel en ook om die basiese noodsaaklikhede van ’n besigheid te leer,” sê hy. “Nadat ek my ouers se huis in Vilakazistraat geërf het, het ek besluit om my droom ’n realiteit te maak. Vyftien jaar later, met 104 werknemers, het my droom ’n wêreldwye sensasie geword.”


Vilakazistraat maak die geskiedenis amper tasbaar en stel Suid-Afrika se diverse kulture en tradisies ten toon. Waarvoor wag jy?

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page