top of page
  • Leah Kloppers

Sussies wat seil



Ingrid en Lena Holm (gr. 10 en gr. 9 onderskeidelik) het begin seil toe hulle onderskeidelik sewe en ses jaar oud was. Holm, hulle familienaam, beteken ʼn inham by ’n baai. Toevallig genoeg, ken hierdie meisies ’n baai van hawer tot gort. Wanneer Ingrid en Lena kragte saamsnoer, is hulle soos verskietende sterre – iets om te aanskou.


Beide het al Suid-Afrika by die Afrika-seilkampioenskappe en Europese Seilkampioenskappe verteenwoordig en streef daarna om eendag die Wêreldkampioenskappe te wen.


Hulle beantwoord ’n paar vrae oor hierdie unieke sport.


Wat is die hoogtepunt van julle seil-avontuur sover?

Ons droom al jare lank om by die Jeug-wêreldkampioenskappete seil en vanjaar kry ons die geleentheid om in Nederland daaraan te gaan deelneem. Dit is ’n groot mylpaal wat ons bereik het.


Hoe werk hierdie sport?

Jy het ’n seilboot en kan alleen of saam met ’n ander persoon seil. Een persoon stuur en die ander een help om die boot te balanseer deur aan ’n tou van die kante af te hang. Daar is ’n baan wat jy so vinnig as moontlik moet voltooi. As jy die beste, vinnigste en kortste roete om die baan kan kry, dan wen jy.


Waar is jou gunsteling-seilbestemming?

Lena: Die Vaaldam.

Ingrid: Mosambiek se kuslyn.


Wat is die Jeug-wêreldkampioenskappe?

Dit is ’n kompetisie waarvoor jy moet kwalifiseer om jou land te gaan verteenwoordig. Daar is mense van regoor die wêreld en jy moet kompeteer met die beste van die bestes. Slegs kinders onder die ouderdom van 18 kan vir hierdie kompetisie kwalifiseer.


Wat het seil vir julle geleer?

Die lewe is net soos die wind – onvoorspelbaar. ’n Mens ervaar probleme en dit waai soms in heeltemal die teenoorgestelde rigting as wat jy wil hê dit moet. As die wind uit die verkeerde hoek waai, kan jy bepaal hoe jou seile gespan word.


Watter tipe oefening doen ʼn mens om fiks te wees vir seil?

Enige oefening help, want jy moet baie fiks en sterk wees. Ons draf, doen uithouvermoë-oefeninge en oefen ons spiere.


Hoe lank duur ’n resies?

Dit hang van die grootte van die baan, jou persoonlike vaardighede en die wind af, maar volgens die reëls mag die resies nie meer as 50 minute lank wees nie.


As julle oorsee deelneem, reis julle met julle eie boot?

Nee, ons huur ’n boot, maar ons vat meestal ons eie seile saam.


Hoe werk die wegspring?

Daar is ’n denkbeeldige lyn tussen die motorboot en ’n merker wat met ’n anker in plek gehou word. Al die seilers kry vyf minute om die beste plek op die lyn uit te soek waar hulle dan gaan wegspring. Dit is belangrik om ’n plek te vind waar die wind perfek waai en waar jy die kortste roete gaan hê sodat jy van die begin af voor kan wees.


Hoe het julle geleer om te seil?

Ons pa het ons van kleins af Vaaldam toe gevat waar hy ons geleer het hoe om te seil. Ons hele familie seil en dit is nog altyd deel van ons lewens.


Wat is julle drome vir die toekoms?

Lena: Ek wil eendag saam met Ingrid na die Olimpiese Spele toe gaan.

Ingrid: Ek wil meer mense by die sport betrek, want oorsee is dit baie gewilder as in Suid-Afrika. Ek wil hê dat meer Suid-Afrikaners moet seil!



Related Posts

See All
bottom of page