top of page
  • Aldoné Kok

Rugby-reus Juan: kop en skouers bo die res

Juan Oosthuyzen is ʼn oud-Helpie wat in 2020 matrikuleer het en tans rugby speel in Japan. “Dit het alles begin by my foto saam met Eben Etzebeth in 2019 na die Rugbywêreldbeker,” vertel Juan. “Hierdie foto het baie deure vir my oopgemaak en die gesprek met my mense was altyd om oorsee te gaan en dit het so uitgewerk dat ek hierdie geleentheid in Japan gekry het.” Volgens Juan is rugby in Japan baie vinniger as in Suid-Afrika. Daar word baie meer klem geplaas op fiksheid omdat dit so warm is in Japan. Juan en sy span oefen twee tot drie ure per dag waar hulle fokus op krag en kondisionering en wanneer die rugbyseisoen aanbreek sal hulle twee tot drie ure twee keer per dag oefen, waarvan een ʼn veldsessie sal wees en een ʼn sessie in die gimnasium. Juan het op skool vir Helpmekaar Kollege rugby gespeel maar sy groot passie was diskus.

Atletiek is steeds ń groot passie vir hom maar hy fokus nou eerder op sy rugby en beoefen nie meer atletiek nie. Aldoné Kok Japan was vir Juan ń kultuurskok maar hy sê: “ń Mens word vinnig gewoond daaraan, en ek is iemand wat van verandering hou so dit is lekker om nuwe goed te sien en ervaar.” Juan vertel verder dat sy gunstelingdeel van Japan die mense is en ook hoe skoon en veilig dit daar is. Ten spyte van die opwinding van Japan, bly hy steeds ń trotse SuidAfrikaner en hy meen dat hy sy vriende, familie en biltong die meeste mis. Juan studeer tans Sportsielkunde aan Toyo Universiteit in Saitama, Japan en sy groot droom is om professionele rugby vir ń groot klub in Japan te speel. “Die toekoms is onvoorspelbaar, maar ek probeer my beste om doelgerig te bly en hard te werk om my drome te bereik.” Doen so voort, Juan!



Juan Oosthuyzen saam met Springbok, Eben Etzebeth in 2019 tydens ʼn besoek aan Helpmekaar Kollege kort na die Springbokke se oorwinning in die Rugbywêreldbeker. Foto: Nikita Venter

Related Posts

See All
bottom of page