top of page
  • Carla Nel

Om te leef in ’n vreemde land

Meneer Ruan Coetzer het vir twee jaar Frans en Afrikaans by Helpmekaar gegee. Laat Desember 2020 vertrek hy op ʼn eens-in-‘n-leeftyd avontuur na Frankryk. Vir vyf maande gaan hy tuis in Lille, die mees noordelike stad in Frankryk, waar hy vir grade 6 tot 9 Engels gee. Daarna reis hy vir ‘n paar maande deur Frankryk.


Meneer het uitdagings ervaar met die vlugte na Frankryk. Watter raad sou meneer gee vir diegene wat van plan is om nou weer internasionaal te reis?

Vrek, ja. Dit was nou vir jou ʼn storie! Ek sou aanbeveel dat mense regtig mooi moet kyk na elke voorwaarde en vereiste van jou vlug voordat jy by die lughawe aanmeld. Maak ook seker dat jy het die regte tipe Covid-toets van ʼn erkende laboratorium wat binne die vereiste tydgleuf val, het. Anders kan daar vir jou baie duur verrassings voorlê.


Hoe vergelyk die Franse skoolsisteem met dié Helpmekaar?

Daar is maar ʼn paar verskille in die kurrikulum- en skoolvlak. Daar is drie tipes matrieksertifikate, ‘n Baccalauréat Général (algemene stroom), Baccalauréat Technologique (tegnologiese stroom) en Baccaulauréat Professionel (professionele stroom). In gr.12 word Frans as vak vervang met filosofie – ʼn vrek interessante vak! By die skool self is daar ook heelwat verskille. Daar is geen uniform nie en die skole is baie oop en verdraagsaam. Verder begin die skooldag om 8:00 en eindig eers 18:00! In die winterkoue het ek altyd in die donker met klasse begin en in die donker klaargemaak. Tussen 12:00 en 13:00 gaan almal huis toe vir middagete. In die lycée (gr.10 tot 12) hoef jy nie by die skool te wees as jy ʼn periode af het nie. Tussen klasse is dit moontlik om die perseel te verlaat en terug in te kom. Jy loop eintlik klas soos by ʼn universiteit!


Meneer het ook vir ʼn paar maande gereis deur Frankryk. Wat was vir meneer die beste bestemming?

Elke dorp en stad het regtig sy eie gevoel en gees. Ek dink byvoorbeeld onmiddellik aan Bordeaux en Lyon. As jy so in die aand langs die Garonne rivier in Bordeaux stap, sien jy daardie tipiese Franse romantiek. In Lyon voel jy regtig die antieke Romeine om jou. Die ou amfiteaters, die geboue en pilare wat al vir meer as 2000 jaar staan.


Wat is van meneer se gunstelingherinneringe oor die tyd in Frankryk?

Dis regtig moeilik om te sê. Ek kon baie dinge sien en doen en soveel mense ontmoet. ʼn Paar staan wel uit. Die Oujaarsaand wat ek saam met die gesin kon deel by wie ek in Desember en Januarie gebly het. Die twee dae wat ek in die berge in Marseille spandeer hê - net ek en my rugsak met net-net genoeg kos en water. As ek Franssprekende mense uit noord- en wes-Afrika ontmoet het, het hulle my altyd met ‘n warm geglim gegroet: “Un compatriote africain!” - ʼn landgenoot uit Afrika! Ek het my reis afgesluit met ‘n lang treinrit van die suide af terug na Parys, waar ek kon terug dink aan alles wat magies was hierdie mooi maande.


Hoe het meneer die aanpassing van Suid-Afrika na Frankryk ervaar?

Ek dink daar is ʼn paar dinge waaraan Suid-Afrikaners nie gewoond is nie. In die eerste plek hoe om met publieke vervoer te werk. Daar was maar baie gesukkel in die begin. Vir die Franse is dit baie ongeskik as jy nie hulle met ‘n Bonjour / Bonsoir! groet nie. By meeste supermarkte betaal en weeg mens self jou items en vars produkte. My ervaring was ook dat die meeste Franse versot is op reëls en regulasies. Vir enigiets waaraan jy kan dink, is daar waarskynlik ʼn reël wat bepaal nie net of jy dit mag of nie mag doen nie, maar ook hoe jy dit moet doen. Saam met regulasies gaan die absolute stiptelikheid van tyd. Ek besef toe eintlik vir die eerste keer dat ek Suid-Afrika se rustigheid verkies.


Wat, volgens meneer, maak Frankryk so ʼn aanloklike land vir toeriste?

Ek dink vir baie mense gaan dit oor die estetika wat met die land geassosieer word. Frankryk is baie meer as net die tipiese clichés van Parys.

Eerstens - die oudheid! Daar is geboue wat oor meer as twee millenniums strek. Jy kry dit gevoel: hier het mense geleef, en vir baie, baie lank! Klein dorpies behou al eeue lank hulle eie karakter. Die kos. O, die kos... Die beste van alles is dat elke règion of gebied hul eie tradisionele kos en drankies het. So waar ook al jy gaan, proe jy aan iets spesiaals en uniek tot daardie gebied. Wat ʼn mens dalk kan verbaas, is dat Frankryk ʼn baie spirituele land is. Ek dink ongeag jou geloofsoortuiging voel jy ʼn tipe teenwoordigheid en mistieke aan. Dan, natuurlik, is daar die taal. Min mense kan die “je ne sais quoi” van Frans ontken. Vir dié wat die taal waardeer sal jy net heeltyd met nuuskierigheid plakkate wil lees en gesprekke wil afluister. Frankryk is om Frans in sy natuurlike habitat te sien en daarin te leef.


Watter waardevolle lesse het meneer in Frankryk geleer?

Daar is baie gedagtes en gevoelens wat ʼn mens in so ʼn reis teëkom. Hier is my drie belangrikste. Eerstens, die idee dat jy maar net vir nou en vir ʼn baie kort rukkie hierdie plek en planeet bewoon en daardeur beweeg. Die oudheid herinner jou nie net aan die idee dat daar al vir baie lank, baie mense voor jou hier was nie, maar ook dat jy dit moet bewaar vir dié wat ná jou hier gaan wees. Tweedens het ek geleer hoe betekenisvol dit is om jou hand na vreemde mense uit te steek. Om sommer in enigiemand ʼn vriend in mekaar te kan vind. Die Franse het baie meer ʼn gewoonte om dit te doen as meeste Suid-Afrikaners. Laastens is ek ook weer herinner aan die waarde om dit met jou lewe te doen waarin jy betekenis vind. Jy het regtig net een lewe. As jy dit doen waarvan jy hou, wat vir die samelewing nuttig is, en waarin jy goed is, sal geluk en geleenthede vanself volg.


Meneer het ʼn groot passie vir tale. Waarom is meneer so lief vir Frans spesifiek? Watter ander taal sal meneer graag nog wil leer

Die klanke van Frans het my aangegryp. Dis ʼn strelende taal wat met sy breiende “rrrgh” en sissende “zjj” in ʼn musikale ritme mens vir lank dromerig kan laat bly luister. Dit is ʼn taal met ʼn enorme woordeskat - een werkwoord kan letterlik 22 keer verander! Met Frans moet jy diep dink oor die manier, tyd en gevoel waarmee iets gebeur of gesê word. Dit het van die mooiste beeldspraak en uitdrukkings wat net so wag om van jou tong af te rol.

Enige taalliefhebber sal seker alle tale wil leer as hulle kon. Party tale sal ek graag vlot wil kan praat, soos Duits en Xhosa, terwyl ander daar sal wees vir dit wat jy kan lees in die taal, soos Latyn, Oudnoors en Antieke Grieks.


Waarom, sou meneer sê, is dit belangrik om ʼn derde taal aan te leer?

Niemand berei jou eintlik voor vir dit wat ʼn derde taal vir jou kan beteken nie. Uit ʼn suiwer wetenskaplike oogpunt, verbeter dit jou geheue, algemene breinfunksies en kreatiewe denke. Jy begin om tale te waardeer as beide kunswerke en ingewikkelde wiskundige formules. Jy verbeter ook jou vermoë om duidelik te kommunikeer – ʼn vaardigheid wat vir elke beroep en verhouding in jou lewe ontsettend waardevol is. Daar is werklik baie beroepsmoontlikhede en geleenthede wat vir jou oopgaan. Vir my is een van die grootste dinge wat oopgaan met die aanleer van ʼn derde taal, die wêreld van boeke en mense wat daardeur oopgemaak word. Ander dele van die wêreld word vir jou beskikbaar gemaak. Die belangrikste is dat jy aan nuwe idees blootgestel word.


Wat is meneer se gunsteling Franse frase of woord? En wat is die vertaling daarvan?

Vir my is die mooiste uitdrukking bon courage. Jy kan dit min of meer vertaal as “sterkte”, maar dit word altyd in ʼn spesifieke konteks gebruik. Die Franse gebruik dit om opreg te sê “hou moed met dit wat jy doen.”



Related Posts

See All
bottom of page