top of page

Matriekleerder kan slange vang oor dié wanopvattings

  • Elzette Labuschagne
  • Oct 10, 2025
  • 2 min read

Updated: Nov 6, 2025



Wanneer jy die woord “slang” hoor, dink jy dalk aan gevaar, gif of aggressie. Maar volgens Frans Mc Donald, ’n gr. 12-leerder en gesertifiseerde slangvanger, is die idee dat slange aggressief is ’n mite.

 

Frans, wat sy eerste kursus al op agtjarige ouderdom gedoen het, het vanjaar ’n gevorderde slanghanteringskursus voltooi. “Ek het in Mei my CPB1-permit gekry om slangverwyderings te doen,” vertel hy trots.

 

Etiese slangvang is vir hom belangrik. “Die een kant is om die slang so vinnig as moontlik veilig te verwyder en so min stres en skade aan die slang te veroorsaak as moontlik, en dit vry te laat in sy natuurlike habitat. Die ander kant is om mense te leer dat slange nie slegte diere is soos hulle dink nie,” verduidelik hy.

 

Etiek is volgens hom nie bloot ’n mooi idee nie – dit red lewens. “Een klein foutjie, net een keer, kan jou lewe eindig in ’n split-sekonde – of die slang s’n.” Hy verduidelik hoe die verkeerde hantering selfs die slang se rug kan breek en hoe gevaarlik dit is om sonder oogbeskerming ’n spoegkobra te hanteer.

 

Wat is die gevaarlikste slang wat hy al teëgekom het? “Swart mambas,” antwoord hy sonder huiwering. “Hulle is vreeslik senuweeagtig, vinnig en onvoorspelbaar. En die feit dat hulle gif jou kan verlam binne vyftien minute en doodmaak binne ’n uur maak hulle vreeslik gevaarlik.”

 

Frans sê hy kan heeldag praat oor mites soos dat slange aggressief is of dat hulle mense jaag. “Hulle is glad nie aggressief nie. Hulle wil jou vermy.” Hy voeg by: “Slange jaag nie mense nie. As dit so lyk, is dit omdat jy én die slang die maklikste pad uit die situasie soek.” Hy waarsku dat dit gevaarlik is om te glo dat jy veilig is as jy ’n slang doodmaak: “Tagtig persent van slangbyte is as gevolg van mense wat die goed probeer doodmaak.”

 

Frans se passie lê nie net by slange nie. Hy stel sterk belang in wildbewaring en is bekommerd oor klimaatsverandering en besoedeling: “Selfs net minder plastiek gebruik of nou en dan help by ’n omgewingsorganisasie maak ’n groot verskil.”

 

Sy boodskap is eenvoudig: “Moet nooit ’n slang doodmaak nie – leer eerder jou kinders om dit nie te doen nie.” Want, soos Frans dit stel: “As jy hulle uitlos, sal hulle jou ook uitlos.”

 
 
 

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page