top of page
  • Zia van den Berg

Kosblik-kaskenades


Pouses is daardie tyd van die dag wanneer die Helpies hul kosblikke van alle groottes en kleure uithaal en aan ʼn klomp verskillende peuselhappies smul. Zia van den Berg wonder egter waaraan die onnies pouses smul.


ʼn Toebroodjie met grondboontjiebotter of kaas of sommer al twee is waaraan mnr. Rudolf Korb graag tydens pouses smul. Hy vertel dat hy homself ook soms met ʼn sjokoladetjie bederf. Mnr. Rudolf beweer dat sy skoolkosblik as kind heelwat beter was as sy huidige kosblik omdat sy ma nooit skaam was om dit propvol te pak vir die aktiewe skoolkind wat hy was nie.


Mnr. Stoffel Coetzee beskryf homself as ʼn “honger ou man” en bring altyd ʼn kosblik saam skool toe. Daar is altyd amandels in sy kosblik en ʼn bruin broodjie met kaassmeer op. As kind het mnr. Stoffel nooit ʼn kosblik skool toe geneem nie, omdat hy in die koshuis was en die koshuiskombuis vir hom daagliks ʼn toebroodjie gemaak het. “Helpmekaar se koshuissjef, oom Chris, se etes is onvergelykbaar beter as my kosblik,” sê hy.

Mnr. Rudolf en Mnr. Stoffel smul aan kosbliktoebroodjies. Foto's: Zia van den Berg

Me. Maria Christelis is bekend vir haar indrukwekkende Griekse tema-etes wat sy op haar beurt kook vir die onderwysers op Vrydae. In haar kosblik pak sy muesli en jogurt vir ontbyt asook ʼn porsie van die vorige aand se ete vir tweede pouse. Alhoewel me. Maria haar kosblikkos beter as sommige ander personeellede sʼn ag, bewonder sy wel mnr. Carel Freysen se kosblik. Mnr. Carel sal ʼn porsie van die vorige aand se ete vir homself inpak en sonder twyfel ʼn avokadopeer byvoeg omdat hy mal oor avokadopere is. Mnr. Carel beskryf sy kosblik tydens sy jare op skool as “eentonig” omdat sy ma slegs toebroodjies vir hom sou inpak. Mnr. Carel glo dat óf sy kosblik óf me. Maria Christelis se kosblik die beste is.


Mnr. Devon Mare erken dat sy kosblik se inhoud deesdae baie gesonder as in sy kinderdae is. “Ek eet vandag baie meer voedsaam, nie net brood nie. Ek was ook nie toe so behep met gesond eet nie.”

Mnr. Devon is baie gedissiplineerd en sal

nooit voor pouse sy kos geniet nie.

Mnr. Devon is so gedissiplineerd dat hy slegs eerste en tweede pouse eet en weer tussen 14:00 en 15:00.


Me. Susan Steurer, ʼn trotse vegaan, bring enige iets van Pronutro tot vegaan fudge. In haar eie woorde: “Enige iets wat die dag meer draaglik maak.” Me. Susan hou die onnies se kosblik, wat daarvoor lief is om sy/haar peuselhappies by Woolworths te koop, met ʼn fyn oog dop. Haar kosblik is al leeg geëet nog voor eerste pouse begin het vertel sy.



Foto's: Zia van den Berg


Related Posts

See All
bottom of page