Op Vrydag, 13 Januarie, brei die Helpie-familie met nóg ‘n generasie uit: 269 welpies word amptelik Helpies. Die inhuldiging van 2023 was weereens ‘n onvergeetlike spoggeleentheid en die perfekte, nostalgiese afsluiting tot ʼn uitdagende en emosiegevulde week.
Die swembadarea en koepel is versier met die hoede en bordjies wat die groentjies gedurende die week gedra het. Groot, wit letters gevul met foto’s van hul gesigte, het “I love Helpmekaar” uitgespel. Kleurvolle liggies het gesorg vir ʼn feestelike atmosfeer. Die swembad was verlig in bont kleure en die fonteine het hoog daaruit gespuit. Dit was beslis visueel onvergeetlik.
Wat die inhuldiging egter besonders uniek maak, is die belangrike rol wat tradisie daarin speel. Die matrieks het die eer om in te stap op die liedjie wat gespeel het toe hulle ingehuldig is. Margitte Kirstein (gr. 12, hoofmeisie 2023) sê in haar toespraak: “Almost Home deur Moby was ons matriekgroep se inhuldigingsliedjie en soos wat ons paadjie hier by Helpmekaar nou einde se kant toe staan, is ons trots om die
toekoms van die skool in julle hande te laat. Nes die lirieke van die liedjie sê, hoop en bid ek dat Helpmekaar vir jou ‘n huis en veilige vesting sal word.” Vir die graad 8’s is hierdie aand maar net die begin van hul hoërskoolloopbaan, maar vir die matrieks is dit ‘n bitter-soet herinnering aan ‘n hoofstuk wat nou voltooi word. Daar word jaarliks met groot sorgvuldigheid op die inhuldigingsliedjie besluit omdat dit ‘n weerspieëling word van wie die graad as ‘n groep saam is. Vir die graad 8’s van 2023 is daar besluit op David Bowie se ikoniese Heroes. “Ons sien julle as perfekte, volmaakte, dapper Helpie-helde,” was Lehan Kruger (gr. 12, hoofseun) se woorde aan die graad 8’s.
Hierdie jaar se inhuldiging was egter nie net gebonde aan tradisies nie. ‘n Indrukwekkende laser-vertoning is teen die forum se dak en mure gehou. Kleurvolle patrone, beelde en boodskappe is ritmies op die maat van In Paradise se Moments We Live For gebruik om ʼn storie te vertel. Dit was ‘n testament dat Helpmekaar nogsteeds tradisies eer en respekteer, maar ook die toekoms en geleenthede wat dit bied omarm.
Met elke naam wat mnr. Klaus König lees, word nog ‘n skakel by die Helpie-ketting gevoeg. Mag die matrieks van 2027 die waarde, trots en glorie van hierdie ketting leer ken en mag dit hulle beskerm. In die woorde van Lehan: “Wees geseënd op die wens-weg-pad hier by Helpmekaar!”
Comments