Hoe om skoolstres baas te raak
- Inge Vermaak
- May 1
- 2 min read

In resepteboeke vind ’n mens gewoonlik instruksies om suksesvolle disse mee op te tower. As tieners, volg meeste van ons egter ’n resep wat keer op keer lei tot ’n reuseflop. Toetse en eksamens gekombineer met te min slaap, energiedrankies, partytjies... As hierdie resep bekend klink, is dit belangrik dat jy nou die koek uit die oond haal voordat dit verbrand. Daar is drie kernbestanddele om onder die stres van hoërskool te floreer.
Dit is eerstens belangrik om ’n gesonde lewenstyl te handhaaf. Slaap en oefening moet geprioritiseer word. ‘n Gesonde dieet kan ook wondere verrig. Volgens Cleveland Clinic, kan salm, avokado en jogurt jou stresvlakke natuurlik verlaag.
Die tweede bestanddeel is om dit wat vir jou belangrik is, te prioritiseer. Shannon Sauer-Zavala, ’n sielkundige, meen die begrip “werk-lewe balans” is ’n reuseleuen. Jy kan nie gelyk ewe veel aandag aan sport, kultuur en akademie gee nie en dit is heeltemal normaal. Dit is eerder prakties om dit wat vir jou die meeste saak maak te prioritiseer om sodoende onnodige stres te vermy.
Laastens moet daar gefokus word op jou psigiese gesondheid. Mayo Clinic stel kognitiewe gedragsterapie voor – wat jy self kan beoefen – om stres te verminder. Dit bevorder opbouende gedagtes, emosies en gedragspatrone. Jou psigiese welsyn is net so belangrik soos jou fisiese gesondheid.
Bak in die toekoms eerder sjokolade kolwyntjies as ’n brousel van selfvernietiging. Dit is moontlik om onder baie stres en druk te floreer. Dit is ’n keuse wat nou by jou begin.
Stresverwante feite en wenke
· Verminder kafeïen-inname en wissel koffie af met tee of selfs kombucha.
· Verminder die tyd wat jy op jou selfoon spandeer – dit verhoog jou kortisolvlakke.
· Vitamiene B en C kan natuurlik die liggaam se stresvlakke verlaag.
· Stres kan slaaploosheid, hoofpyne en depressie veroorsaak.
· Oefen gereeld – dit verminder kortisol, die streshormoon.
· Ondersteunende verhoudings is krities vir holistiese gesondheid.
· Nie alle stres is negatief nie – positiewe stres of eustress kan lei tot positiewe groei.
· Drink genoeg water – dehidrasie verhoog die produksie van kortisol.
Commentaires