top of page
  • Coenraad Olivier

Helpies maak herinneringe die hele wêreld vol

’n Klomp bevoorregte graad 11’s is op ’n onvergeetlike reis geneem.  Portugal en Marokko het ons opgeraap en weggevoer en ons drie weke later as nuwe mense weer na Suid-Afrika teruggestuur.

Ná hope en hope beplanning, dokumente, frustrasies, uitdagings en laat nagte kon die toergroep onder leiding van mnr. Klaus König, me. Liezel Bach, me. Trudie Vermeulen, mnr. Louis Botha en mnr. Hennes de Wet, uiteindelik op 5 Augustus vertrek.

Party leerders het via Angola gevlieg, ander via Londen, en ander via Madrid, maar uiteindelik lei alle vliegroetes na Lissabon. Daar het ons almal bymekaar uitgekom en het ons reis amptelik begin.

Ná ’n vier uur busrit (gelukkig ken Helpies van busry, boonop was hierdie een luuks!) arriveer ons in Porto, die rivierstad van Portugal. Daar neem ons ’n bootrit verby sewe brûe. Twee kinders vang vis en almal verwonder hulle aan die ou stad se kultuur.

So reis ons deur Portugal: Braga, Coimbra, Alcobasa, Nazare tot terug in Lissabon. Ons besoek talle katedrale en museums, loop deur klein dorpies se agterstrate, koop geskenkies en proe Portugal op ons tonge deur die heerlike Portugese kookkuns.

Ons leer om op onsself en ons vriende staat te maak. Ons raak geïntegreer in die Portugese taal en kultuur. “Ola”, “Obrigado”, “Boa Dia” en “Adeus” rol van die Helpies se tonge af.

Op 14 Augustus arriveer die gr. 11-Helpies terug in Lissabon, verryk en vernuwe, propvol herinneringe en  nuwe ervarings.  Teen dié tyd loop ons families se fone lankal oor van Portugal-foto’s, maar wag – Marokko kom nog.

Ons land op 16 Augustus in Casablanca en vertrek dadelik na Fez, waar ons die Medina verken, deur handelaars geteister en gesoebat word, snaakse geure ruik, eienaardige dinge te koop sien en onsself verwonder aan hierdie unieke kultuur. Daarna vertrek ons na die Todra-kloof, waar ons onder die sterre slaap, lekker swem, berg uitklim, en ongelooflik warm kry.

Toe is dit tyd vir sand: Die kameelrit in die Sahara-woestyn. Ons slaap in ʼn Bedoeïen-kamp in Berber-tente, eet lekker, warm tuisgemaakte kos en verkyk ons aan die oneindige visuele wonders van die Sahara. Daarna wag Marrakesj op ons. Nog ’n Medina en ʼn markplein. Op die markplein is daar slange wat met fluitspel uit hul mandjies kom, vrugte en kos, geure en kleure. Ervarings wat die sinne betower, te veel om op te noem.

Met ’n oop gemoed het die gr. 11-Helpies op 5 Augustus vertrek. Met ’n vol gemoed het ons op 26 Augustus teruggekeer. (Wel, sommige agterosse het tegnies eers op 27 Augustus in die kraal gekom, maar dit is ’n storie vir ’n ander dag.)

En toe, net twee weke later, tref ’n aardbewing Marokko.  Daar waar die Helpie-voetspore in die sand lê, lê mense se lewens nou verwoes. ’n Hartseer gedagte, maar ook ’n getuienis van dankbaarheid – ons is veilig en geseënd.

Ons gemoed is vol. Ons lewens is verryk. Ons tonge het die wêreld geproe. Ons harte is dankbaar. Komaan!  Helpies maak herinneringe – die hele wêreld vol!



Related Posts

See All
bottom of page