top of page

Die wiele van die bus gaan om en om

  • Lienke Olivier
  • Aug 13, 2025
  • 2 min read
Helpmekaar se busvloot het 24 busse. Foto: Carla Klingbiel/
Helpmekaar se busvloot het 24 busse. Foto: Carla Klingbiel/

As die son sy kop oor die horison lig, word die Helpie-skooldag wakker – lánk voor die skoolklok lui.


By elke busstop vibreer positiewe energie. Die bus kom nie net kinders haal nie – dit vervoer ons unieke Helpiekultuur.


Die Helpie-busstorie ry al ʼn lang pad. In 2001 was daar vier busse op vier roetes. Later is minibus-taxi’s van ʼn taxi-eienaar gehuur.


Meneer Willie van der Berg, wat destyds self busbestuurder was, vertel dat die busse toentertyd die leerders by hul huise op- en afgelaai het. Eendag het ʼn bus se deur afgeval. ʼn


'n Paar graad 8’s moes toe maar al die pad die deur vashou.

Helpmekaar se busvloot bestaan tans uit 24 busse wat 1250 leerders by 48 punte oplaai. Elke bus het sy eie naam: Vastrap, Rondrits, Vasbyt.


Die Helpie-busse ry die roete van toonaangewende tegnologie. Die bustoep hou ouers ingelig oor die beweging en aankomstye van busse. Die logistieke baasbrein is Meneer Wayne Fourie wat die vloot so glad so seep laat loop. Hy monitor lisensies, panniekknoppies, dieselverbruik, bande, voertuig- en bestuurder-inspeksies deur die Carras-vloot-moniteringstelsel.


Vir Joseph, busbestuurder van Vasmaak, is dit ʼn vreugde om kinders betyds by die skool te kry. Hy staan soggens 03:30 op om betyds by die busstop te wees. Kinders wat laat kom, maak hom dus baie kwaad.


Vroeg-vroeg leer graad aggies al die groot woord: Senioriteit. Nederig sit jy heel voor. Jy waag dit nie om agter ʼn matriek te sit of voor ʼn matriek uit te klim nie.


Die bus is waar Helpies ywerig studeer, haastig huiswerk doen en kliphard karaoke. Helpies word nie moeg nie, want ons slaap op die bus. Terwyl die wiele rol, leer ons tydsbestuur, bou ons bande en word ons groot.


So vervoer die Helpie-bus ons na vaardighede vir ‘n beter toekoms. Helpie-busse vervoer gees, stories en herinneringe. Dis Helpie-magic op wiele.

 


 
 
 

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page