Dit is reeds ʼn paar maande sedert die graad 8’s deel geword het van die groot familie by die Bruin Reus op die Bult. Hulle het al baie van die talle tradisies en Helpie-ways wat Helpmekaar uniek maak ervaar.
“My gunstellingtradisie is dat die kinders nie judge nie maar love. Hier by Helpmekaar gaan dit nie oor of jy die beste punte kry of in die A-span is nie, maar oor wie jy as mens is,” vertel Jane Slabbert (gr.8).
Dit is geen geheim dat Helpmekaar se oriëntering stamina vereis en daardie “Helpies-word-nie-moeg-nie”-karakter bou. Maak nie saak hoe erg dit jou uithouvermoë toets nie, is dit in wese ‘n pad wat elke Helpie loop, en jou vorm en déél maak van die skool. Toe die graad 8’s gevra is om hierdie ervaring in een woord te beskryf het “lewensveranderend” dikwels opgekom.
Die graad 8’s het ook tydens die Goueliga hul eerste atletiekbyeenkoms bygewoon. Diegene wat op die paviljoen saam met die skool die atlete aangemoedig het, sê: “Nog nooit het ek ʼn skool se krete so deur die stad hoor weergalm nie. Helpmekaar het definitief die beste gees!”
Atleet, Rico Nel (gr.8), wat die skool tydens die Goueliga verteenwoordig het vertel: “Ek was baie trots daardie dag. Mens sou dink dat ek trots was op die feit dat ek ʼn podiumplek behaal het, maar eintlik was ek so trots op die feit dat ek my alles kon gee in daardie 11 sekondes, om Helpmekaar se naam hoog te hou. My skool!”
Die graad 8’s pak die jaar aan met drome en oop harte. Hulle ervaar alles wat gepaard gaan met grootword met meer as ‘n duisend kinders wat agter hul staan en hulle ondersteun. Hulle dans in die reën. En as mens vir hul vra hoe hulle Helpmekaar tot dusver ervaar het, antwoord hulle: “Dis ons plek.”
Yorumlar