top of page
  • Mia Ainslie

Amor is een uit ’n miljoen


Terwyl die meeste van ons sukkel om ons snoepiekaarte se balans in die groen te hou, is daar een Helpie wat gesoute besigheidseienaars reeds ’n ding of twee kan wys.


Amor Janse van Rensburg (gr. 8) het in Mei die top-60 in die Maak My ’n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie gehaal. Dié kompetisie mik daarna om hoërskoolentrepreneurs te inspireer en te bemagtig. “Die kompetisie het my geleer om vooruit te dink en om die regte toekomsbesluite te neem,” sê sy.

 

Maar wie is Amor as sy nie besig is om die besigheidswêreld oor te neem nie? Amor is ’n kranige krieketspeler en spaar tans vir ’n krieketstel. Op ’n Vrydagaand kry jy haar op die rusbank met ’n boek. Sy is mal oor rillerflieks soos The Meg. Sy wil weet hoe die wêreld werk en Fisiese Wetenskap en Geografie is haar sterkpunt. Sy mors haar geld op scrunchies en sweetpaktoppe en as sy eendag suksesvol is, sal sy van haar geld vir liefdadigheid skenk. En vir dié wat nie geweet het nie: Amor ry graag trekker op haar tannie se plaas!

 

Dié entrepreneur se ouers is albei in besigheid. Die gesin speel daagliks selfoonspeletjies soos Call of Duty en hou graag vakansie by die Zelpy Fishing and Game Resort in Magaliesburg.

 

Amor het ook ’n talent vir bak. Sy het juis na die top-60 van die kompetisie deurgedring deur sagte suikerkoekies te bak wat kinders met draadjies ook maklik kan eet. Sy hoop om eendag haar besigheid uit te brei, ’n sosialemedia-profiel te stig en haar koekies aan kliënte te kan aflewer.

 

Amor droom groot en wil eendag by Harvard studeer. "Ek wil jong kinders, wat voel hulle kan nie veel in die lewe bereik nie, inspireer,” sê sy. Sy sê haar pa is haar grootste inspirasie.

 

 

Vinnige feite

Nartjie of lemoen? Lemoen

Vegetaries of vleis? Vleis

Krediet of kontant? Krediet

Take-aways of jou ma se kos? My ma se kos

Coke of Pepsi? Coke



Comments


bottom of page