Versterk die Helpie-ketting deur kennis oor geestesgesondheid
- Robin Steenkamp
- Nov 20
- 2 min read
Elke dag, loop ons leerders in die gange en dra meer as net skooltasse. Party van ons mede-Helpies dra angs, stres, depressie of ander geestesgesondheidsprobleme wat nie altyd met die blote oog sigbaar is nie.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het een uit sewe tieners ’n geestesversteuring, waarvan die meel algemene een depressie is. Depressie is nie 'n swakheid of iets wat met wilskrag oorkom kan word nie – dit is ’n siekte wat mens met soveel donker vul. Depressie word gewoonlik te laat raakgesien omdat daar nie genoeg blootstelling aan hierdie siekte is nie. Dit is egter ironies omdat elkeen van ons daagliks verby mense stap wat hiermee sukkel.
Die gevolge van depressie is meer as net ‘n diep, donker poel waarin mense verdrink, maar word so ernstig dat dit alles van ‘n mens skraap totdat hulle moontlik hul eie lewe neem. Selfdood word gewoonlik as selfsugtig beskou. Sielkundige Gerda Kriel vertel dat hierdie argaïstiese chliché, afgewater en onwaar is. In die werklikheid is 9% van tienersterftes in Suid-Afrika weens selfdood en ongeveer 20% van tieners struikel met hierdie gedagtes, stel statisiek vanaf SADAG (South African Depression and Anxiety Group) voor.
‘n Ketting is net so sterk soos die swakste skakel, dus as skakels van die Helpie-ketting moet ons die mense rondom ons versterk. Die eerste stap wat ons as vriende of mede-Helpies kan vat, is om die simptome van depressie raak te sien. Kyk uit vir die volgende tekens:
· Gereelde of vinnige gemoedskommelings.
· Verlies van belangstelling of plesier in gewone aktiwiteite.
· Sosiale isolasie.
· Swak skoolprestasie of gereelde afwesigheid van skool.
· Oormatige gebruik van alkohol.
· Dwelmmisbruik.
· Moegheid en energieverlies.
Die volgende stap is om hierdie persoon direk aan te spreek. Die gesprek moenie ‘n geleentheid wees om hulle kop af te byt nie, maar eerder ‘n kans om te hoor wat hulle op die hart het. Jy moet ‘n skouer wees waarop hulle kan leun, ‘n oor wat sal luister en ‘n steunpilaar waarop hulle kan leun. Ons as mense is dadelik geneig om oplossings te vind, maar in dié geval is dit nie ons werk nie. Jy kan opsies voorstel, soos om met ‘n professionele persoon te praat, maar die persoon moet reg wees daarvoor.
Hierdie situasies is nooit maklik nie, maar ons moet die Helpie-ketting versterk. Help die persoon langs jou, want so kan ons saam sterk staan.
Onthou, as jy as leser iemand ken wat sukkel of indien jy self sukkel, kan jy uitreik. Dit is nie ‘n teken van swakheid nie, maar ‘n manier om te verbeter.
Nommers wat kan help:
· Helpmekaar-kinderleiding: kinderleiding@helpmekaar.co.za vir ‘n afspraak
· SADAG-selfdoodkrisishulplyn: 0800 567 567 (24/7)
· SADAG-SMS-hulplyn: SMS 31393 vir ‘n oproep
· Suid-Afrika-noodlyn: 0861 322 322


Comments