top of page

Van klaskamer tot kasteel, Frans vat jou ver!

  • Mia Ainslie en Johard Venter
  • Aug 30, 2025
  • 2 min read
Die ikoniese Eiffel-toring wat oor Parys uitkyk.
Die ikoniese Eiffel-toring wat oor Parys uitkyk.

Het jy al ooit gedroom om onder die Eiffel-toring te sit, met ʼn koppie koffie in die een hand en ʼn wêreldberoemde croissant in die ander? Of wil jy dalk die hoofkarakter in jou eie Emily in Paris wees?


Frans staan bekend as die taal van liefde, en vir goeie rede! Die melodieuse klanke en sagte aksente het dit gewild gemaak in romantiese films, poësie en liedjies. Met 29 lande wat Frans gebruik en meer as 320 miljoen sprekers, sal jy vir seker eendag ʼn Franssprekende teëkom.


Om Frans as ʼn derde taal te leer, is soos om ʼn nuwe wêreld binne te vaar. Die uitspraak is ʼn uitdaging, veral met nasale klanke wat nie natuurlik in Afrikaans of Engels voorkom nie en bykomend moet jy kan onderskei watter geslag ʼn tafel of ʼn stoel is. Al dink mense Frans is soms moeilik, is dit net ʼn nuwe manier van dink en leer.


Al is Frans soms ʼn uitdaging, kom dit beslis met ʼn hele paar smaaklike voordele. Saam met dié moeilike taal kom die Franse leefstyl... Om in Frankryk te leef, is ʼn ware feesmaal. Daar is 30 000 bakkerye (of boulangeries) in Frankryk. Mens kan elke dag croissants voor werk eet en ‘n lekker éclair vir middagete het nog nooit iemand seergemaak nie. As jy hou van kaas, kan jy in Frankryk ʼn nuwe kaassoort elke dag van die jaar probeer.


Tussen al die geëtery, doen die Franse darem sport ook. Deel daarvan om ʼn Franse burger te wees is om ʼn sokkertrui aan te trek, by die Stade de France te gaan rugby kyk en die vreemde Franse sportsoorte soos handball en pétanque baas te raak.

Frans maak jou ook wêreldwys. Dit bied jou die geleentheid aan om talle Franssprekende lande te besoek en ʼn nuwe kultuur te leer ken. Frankryk spog ook  met talle ikoniese bestemmings soos Versailles, die Louvre en die Eiffel-toring.


Buiten Frankryk word Frans ook in Kanada, Switserland en verskeie Afrika-lande gepraat.

En natuurlik leer Frans jou ook goeie maniere. As jy in Frankryk is, is bonjour noodsaaklik! As jy vir aanwysings moet vra, onthou jou “excuse moi” – niemand gaan aan jou verduidelik waar die Notre Dame is as jy net begin praat nie. In sekere omstandige word madame en monsieur waardeer en as jy regtig lus is skrik die Franse glad nie vir ʼn kus op die wang nie.


Frans is baie meer as net ʼn taal, dit is ʼn leefwyse. Of jy nou in die klaskamer sit, of eendag by ʼn Franse kasteel instap, onthou, die reis begin altyd met een woord: Bonjour!

 
 
 

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page