Vakkeuses: Dink verder
- Marli du Preez
- Aug 29, 2025
- 2 min read
Updated: Sep 12, 2025
Dit is weer daardie tyd van die jaar. Vakkeuses is ’n gesprekspunt in baie Helpie-huishoudings, maar sommige gesprekke dra meer vrugte as ander.
Gaan hierdie vak jou baat? Wat kan jy ná skool daarmee doen? Geniet jy dit? Hoe belangrik is punte nou regtig?
Vakkeuses is dikwels ’n kwessie wat baie spanning vir beide kinders en hul ouers veroorsaak. Die oorsaak van daardie spanning is heeltemal te gereeld onkunde van die vakke self, of wat die vakke behels.
Helpmekaar is trots op die verskeidenheid verdere studies-programme wat aangebied word. Verdere studies Wiskunde; Engels; Fisika en Chemie word onder meer aangebied om leerders se horisonne te verbreed en hulle vir naskoolse vereistes voor te berei. Hierdie vakke vra meer – maar gee ook meer terug.
Boshoff (gr. 11), wat beide verdere studies Wiskunde (VSW) en verdere studies Fisika (VSF) neem, sê: “Ek is net superlief vir Wiskunde en geniet dit om ’n probleem aan te pak wat nie net een pad na die antwoord toe het nie.” Sy beskryf beide vakke as uitdagend, maar belonend: “Jy leer om oukei te wees met die feit dat jy nie alles altyd gaan regkry nie.”
Kaelyn Friguglietti (gr. 12) sê VSW het haar nie net akademies bevoordeel nie, maar ook in selfvertroue: “Jy leer konsepte ’n jaar of twee vroeër, so wanneer dit in gewone Wiskunde opduik, voel dit soos herhaling.” Sy sien dit as ’n voorbereiding op haar mediese studies ná skool.
Verdere studies is egter nie beperk tot Wiskunde en Wetenskap nie. Adionna Tshabalala (gr. 11) volg Further Studies English (FSE) en beskryf dit as haar gunstelingvak: “Die hoeveelheid leeswerk en die vryheid wat verbonde is aan interpretasie maak dit ongelooflik interessant.” Volgens haar bied die klein klasse – omtrent ses kinders – ’n ruimte waar elkeen se stem tel en kreatiewe denke aangemoedig word.
Die vakke word op verskillende maniere aangebied – soms binne die rooster, soms as aanlyn sessies en soms ná skool. Almal stem egter saam dat dit waarde toevoeg. “In graad 10 het ek gedink ek gaan druip – nou’s dit een van my gunstelingvakke,” sê Mia.
“Dit forseer jou om die proses te vertrou en nie hard te werk vir ‘n punt nie [omdat dit nie vir jou rapport tel nie] maar om hard te werk net omdat jy meer wil weet en verlief is op die vak.”
Of jy jou toekoms in Engels, Geneeskunde of Ingenieurswese sien – Helpmekaar se verdere studies-programme rus jou toe met die denkvaardighede, uithouvermoë en akademiese begrip om daar te kom.
Soos Kaelyn sê: “Maak dit net deur graad 10 – daarna sal jy oukei wees.”
Vir enige Helpie wat graag dieper wil leer, is dit dalk tyd om verder te dink oor Verdere Studies.


Comments