Nie enigiemand kan sê dat hulle ʼn medalje ʼn Afrika-kampioenskap gewen het nie. Wat nog te sê van twee broers wat dit saam gedoen het – Terence (gr. 12) en Johnny Esterhuizen (gr. 11) is in dié uitsoekgroep.
Die Esterhuizens neem aan gemengde gevegskuns (mixed martial arts) deel. Dit is ʼn sportsoort waarin twee mense teen mekaar veg deur die tegnieke van boks, stoei en gevegskuns te gebruik. Die broers het Suid-Afrika in Mei by die International Mixed Martial Arts Federation se Afrika-kampioenskapsbyeenkoms in Namibië verteenwoordig. Johnny en Terence het albei goud gewen.
Baie sibbe het ʼn liefdes-haat-verhouding, veral as hulle dieselfde sport doen. In hulle geval, sê Johnny, “ons kompeteer partykeer, maar motiveer mekaar baie meer.”
Johnny was “nog altyd sportief” en wou van kleins af gemengde gevegskuns doen. Hy sê dit is moeilik om sy verpligtinge te balanseer, maar “ek kom tog reg hiermee. Ek werk hard en sit baie moeite in om my doelwitte te bereik.”
Om ʼn balans tussen sport en sy lewe buite sport te handhaaf, is ook vir Terence ʼn uitdaging. Van die baie lesse wat hy al deur sport geleer het, sê hy die belangrikste is “om altyd nederig te wees teenoor ander”. En sy raad? “Om te doen wat jou gelukkig maak, maak nie saak hoe mal dit vir ander klink nie.”
Comentarios