Met ouderdom, kom wysheid. Met reis, kom verstaan. Om die wêreld te kan sien en te beleef, is ʼn ongelooflike voorreg wat nie maklik in woorde beskryf kan word nie. “Euforie” kry ʼn heel ander betekenis wanneer ʼn mens vir die eerste keer die Eiffeltoring met bewondering aanskou, skoon stomgeslaan van verbasing. Daar is geen gevoel op aarde wat kan kers vashou by die ongeloof wanneer mens die skoonheid van Venesië se kanale of die Hagia Sofia in Istanbul aanskou nie. Europa is glad nie soos dit in storieboeke en films uitgebeeld word nie ‒ dis beter!
Helpmekaar se graad 11-leerders het vanjaar die geleentheid gehad om vir 21 dae lank deur Europa te toer. Hulle het die reis in Amsterdam afgeskop, toe al die pad tot in Turkye gereis waar die toer in Istanbul geëindig het. Die leerders het in totaal vyf stede in vyf verskillende lande besoek, naamlik Amsterdam, Parys, Venesië, Boedapest en Istanbul. Die toerlede se skedule was propvol insiggewende en verrykende ekskursies ‒ elke bestemming gekies met ʼn spesifieke doel. Museums, museums, en nog museums! Die Van Gogh-museum in Amsterdam en die Musé d’Orsay in Parys, is van die grootste museums met die rykste geskiedenis ter wêreld en die Helpie-toerlede is bevoorreg genoeg om te kan sê dat hulle dié legendariese geboue besoek het. Elke monument wat die leerders gesien het, vorm deel van hul éie sewe wonders van die wêreld. Terwyl die Arc de Triomphe, Notre Dame, die Blou Moskee en die ikoniese kanale van Amsterdam ʼn besonderse indruk op ʼn persoon maak met behulp van ʼn skerm, is die indruk ’n honderd maal groter wanneer mens dit in lewende lywe sien.
Die drie weke wat die toerlede in ʼn vreemde land, weg van hul ma’s se kookkos en skoon wasgoed spandeer het, was beslis ʼn aanpassing. Metro’s, supermarkaandetes en vinnige vyf kilometer stappies in Europa se somerson het oornag die norm geword. Helpmekaar Kollege se trappe was skielik elementêr, want as ’n mens saam met mnr. König stap, is drentel nie ʼn opsie nie. Langbroeke en kopdoeke in Istanbul het ʼn gevoel van nostalgie vir Suid-Afrika se koue winter by die toerleerders geskep. Kraanwater is heel bevredigend as jy meer as R30 moet uithaal vir ʼn klein houertjie koeldrank. Elke kafee op die straathoeke van Parys en die sonsondergang oor die kanale van Venesië is die mooiste mooi wat enige persoon kan beleef. George Ezra se liedjie “Budapest” is nie net meer lirieke nie, en alhoewel visbroodjies op die kaai nie heeltemal dieselfde as braaivleis is nie, is dit ʼn smaak wat geen toerlid sal vergeet nie.
Die toerlede gaan sukkel met finansiële wiskunde noudat hulle terug is in Suid-Afrika ‒ hulle koppe werk nog in Euro’s!
Comments