top of page
Lienke Olivier

Sand, see en sielerus op die Skeepswrakroete



Op die kruin van een van die duine. Foto: Lienke Olivier

Die Skeepswrakroete is wild, maar nie soos wat jy dink nie. Al waai die wind soms wild, al sien jy soms die wrakke van vergane skepe, is hierdie wilde wildernis eintlik vrede vir jou siel.  Die Skeepswrakroete strek vir 62 km. vanaf Port Alfred tot by die Groot Visrivier.


Meer as 70 skepe het deur die eeue hier vergaan. Binne die eerste kilometer sien jy die stookketel van die Victoriasleepboot bo die laagwaterbranders uitsteek.  Die eerste dag is ʼn kaalvoetstappie op die strand tot by die oornaghut agter ʼn hemelhoë duin tussen ʼn klompie melkhoutbome. Die uitsig vanaf die duin, is elke hyg van jou asem werd: ʼn Poskaartprentjie van boepensduine en blou-blou see.


Die tweede dag was ʼn stywe stoot strandlangs teen die wind, totdat jy 5 km. verder al langs die rivier die digte woud in stap tot by die boomhuis. Na ʼn rivierbad, maak ons ons tuis vir ʼn salige nagrus 6 m hoog in die takke.


Dag drie kronkel ons deur die woud en oor ʼn uitgestrekte grasvlakte tot by Drie Susters.  In 1488 het Bartolomeus Diaz dit “Fonteinrotse” gedoop, vanweë die skouspelagtige sproei van die branders teen hierdie manjifieke rotse.  In 1829 is die drie rotse vernoem na drie Griekse godinne, Euphrosyne, Thalia en Aglaia, oftewel die Drie Susters.


Op dag vier stap ons 6 km. na die Wes-Kleinemonderivier en gebruik dan ons arms in plaas van ons bene: Ons roei 9 km. stroom-op na die Lily Pad-hut.  Die stilte op die rivier word net onderbreek deur ʼn visarend se roep en ʼn otter se geplas.  Ons maak vuur in die donkie en stort heerlik warm – luuks! 


Op dag vyf roei ons weer stroom-af terug see toe. By Clayton Rocks het ʼn Britse stoomskip op 12 April 1890 gesink. Die wrak is sigbaar met laagwater. By Stone Cottage, ʼn kliphuisie wat Britse setlaars hier gebou het, verwelkom duikers en bosbokkies ons vir die nag.


Aprilmaand is die ideale tyd om hierdie roete te stap. Besprekingsinligting kan gevind word op www.shipwreckhiking.co.za.


Is jy ʼn senuweewrak? Kom word heel en vind vrede vir jou siel op die Skeepswrakroete!

 

Comentários


bottom of page