Matriekafskeid – die grootste en laaste gebeurtenis op enige hoërskoolleerder se skoolkalender. Dit is jou laaste kans om lekker te kuier voor graduering en die eindeksamen. Dit is seker die enigste keer, behalwe vir jou troudag, waar jy soos ’n prinses kan aantrek. Daar sal onvermydelike droë vonkelwyn en huilende ouers wees. Dit word ook dikwels aan jou beskryf as die “beste aand van jou hoërskoolloopbaan”.
Tog duik die vraag op: Is dit regtig al die geld en stres wat daarmee gepaard gaan werd?
Ek glo dat die kostes verbonde aan die Matriekafskeid nie geregverdig is nie. Daar word verwag dat meisies lang aandrokke dra en seuns deftige pakke wanneer hulle die matriekafskeid bywoon. Hierdie uitrustings kan tussen R5 000 tot R20 000, of selfs meer.. Dit is gek om te dink dat net die klere alleen so duur kan wees en net vir een aand gedra word.
Selfs die kaartjies is geprys asof hulle in goud gedoop is. Soveel geld om in ’n gebou in te loop, te eet en te dans. Daar is ook altyd ekstra kostes soos die kar, die hare, die juwele en die grimering.
Eintlik is die Matriekafskeid soos enige ander skooldans, maar dit is soveel duurder en dra hoër verwagtinge om 'n perfekte aand te wees. Ek glo dat aangesien standaarde so hoog is en leerders onder die indruk is dat die aand so wonderlik gaan wees, is hulle gewoonlik op die ou end teleurgesteld omdat dit dalk nie uitdraai het soos hulle gedink het dit sou nie. Matriekafskeid word opgehef dat dit 'n perfekte, magiese en romantiese aand sonder enige drama is, terwyl dit in werklikheid ver daarvan kan wees. Nie almal is gelukkig genoeg om 'n metgesel vir die aand te hê nie en dit kan aanleiding gee tot verdere spanning.
“Ek wou saam met Sandra matriekafskeid toe gegaan het en nou het Petrus haar gevra, nadat ek hom gister vertel het hoe graag ek saam met haar wil gaan. Hoe kan hy dit aan my doen?!” – lui ’n opmerking wat gereeld tydens Matriekafskiedseisoen onder die matriekseuns gehoor kan word.
Ek raai niemand af om Matriekafskeid toe te gaan nie, maar ek sal aanbeveel om realisties te bly oor jou verwagtinge en begroting. Sal ’n rustige, laaste aand alleen met die vriende waarvoor jy die liefste is, of dit nou braai by die huis is of ’n ete by ’n luukse restaurant nie ’n beter afskeid wees as ’n teleurstellende, duur partytjie nie? Ek glo persoonlik só.
Commenti