top of page
  • Leah Vivier

Resensie: "Im Westen nichts Neues" - "All Quiet on the Western Front"

Oorspronklike taal: Duits

Regisseur: Edward Berger

Skrywers: Edward Berger, Lesley Paterson, Ian Stokell

Vervaardiger: Malte Grunert, Daniel Dreifuss

Genre: Oorlog, geskiedenis, drama, aksie

Akteurs: Felix Kammerer, Abrecht Schuch, Aaron Himler, Moritz Klaus, Edin Hasanovic



Jou skeef-afgerolde geskiedenisnotas leer jou van Wêreldoorlog Een, maar om werklik begrip te hê vir die omvang van die Groot Oorlog, gaan nie net van

ou-koeie-opgrawe-en-analiseer kom nie. Die film, All Quiet on the Western Front (2022), oorgeklank van Duits na Engels, draai nie doekies om, wat die gruweldade van Wêreld Oorlog Een betref nie. Alhoewel die oorlog-tema al holrug gery is, is Edward Berger, die regisseur, se invalshoek uniek, met die fokus op die Duitse loopgrawe. Die hoendervel-ontstellende oomblikke, dra by tot sy groter doel – deernis met ʼn soldaat.


Rooskleurige wange, sonskyn glimlagte, hoopvolle oë, skoon gewetes, onskuldige kinders...opgesweep deur die propaganda. Dis 1917, Duitsland (WO1) en Paul Bäumer en sy vriende gaan op ʼn avontuur – die Eerste Wêreldoorlog. Opgewonde, durf hulle die pad na hulle eerste pos op die Westerse Front aan. Wat hulle inwag, is septiese, koue, nat en dodelike loopgrawe, wat in teenstelling is met hulle welgestelde siele. Kort na hulle aankoms, verwelkom ʼn bomaanval die klompie nuwelinge, wat net die begin van Paul se verhaal bevestig. Verder, vertolk die fliek die geskiedkundige gebeure van die Eerste Wêreldoorlog deur die lens van Paul se ervaringe, wat die kyker aangryp. Emosionele oomblikke word darem afgewissel deur die uitlig van vriendskappe en leefstyl.


Die kyker word meegesleur deur elkeen van Paul se aksies. Of hy nou iets hoor, sien of voel. Dié is te danke aan die tegniese werk. Die musiek oorheers nie die fliek om ʼn sekere atmosfeer by die kyker af te dwing nie. Daar word egter gebruik gemaak van rou oorlogklanke – noodfakkels, die grofgeskut, die bomaanvalle, gepantserde voertuie se enjins en manne se lyding. Die beeldmateriaal word meesterlik afgewissel tussen intieme skote en lang skote wat die verrinneweerde oorloglandskap wys.


Felix Kammerer, Abrecht Schuch, Aaron Himler, Moritz Klaus en Edin Hasanovic is maar net ʼn paar akteurs wat die gehoor vasvang met hulle goeie toneelspel. In ag genome dat die film oorgeklank is, het die boodskap nie verlore gegaan in die vertaling nie; hoewel die fliek as merkwaardig beskou kon word in sy moedertaal.


ʼn Oorlogfliek het jy nog nooit vantevore gesien, as jy nog nie jou oë op dié een gelê het nie. Geskiedenis-liefhebbers of waaghalsige fliekvlooie, verkieslik bo 16, sal hierdie fliek van waarde ag. Met ʼn boeiende storielyn, uitmuntende toneelspel en ʼn sterk boodskap, verdien hierdie fliek ʼn 10/10-gradering.

Related Posts

See All
bottom of page