#Oud-Helpie-stemme: 'Ons Plek' in perspektief
Wanneer ’n mens tussen die ouderdom van 13 en 18 jaar oud is en forseer word om skoolklere te dra en stiptelik 7:30 aan te meld vir aantree, kan onderwysers se raad en reëls net soos nóg iets klink wat ’n mens moet gehoorsaam. Gedurende my tyd by Helpmekaar Kollege het die woorde “Helpie-ketting” en “ ’n Helpie word nie nat nie” definitief ’n paar oë laat rol. Dit het gevoel asof dit deel van die draaiboek is wat opgesê moet word voordat die skoollied gesing word en dit was “sêgoed” waarvoor ek doof geraak het. Tydens my afgelope drie jaar op universiteit het ek besef dat daardie “sêgoed” eintlik soveel gewig dra.
Behalwe vir die feit dat die fisiese Helpie-ketting sorg vir ’n paar onvergeetlike en ongemaklike oomblikke waar jy aan jou klasmaats moet klou tydens ontgroening, het ek gesien hoe die spreekwoordelike ketting sterk bly ná matriek. Die WhatsApp-graadgroep van die klas van 2023 is steeds aktief met die hele graad wat daarop is. Fisies is ons regoor die wêreld besig om ons drome na te streef, maar ons is eintlik maar baie naby aan mekaar. Tans is ek besig om saam met vyf ander Helpies deur hospitale te roteer om eendag dokters te word. Hulle is dieselfde mense wat my gedruk het om beter te doen op skool en my gemotiveer het om harder te werk sodat ek medies kan studeer. Die Helpie-ketting was nog nooit net ’n mooi sêding wat aanloklik vir buitestanders klink nie, maar eintlik die hart van wat Helpmekaar Kollege so spesiaal maak vir elke generasie verbonde aan die skool.
Iets wat my as ’n graad 8-leerder op my tande laat kners het, is wanneer daar vir my gesê word: “'n Helpie nie nat reën nie”, terwyl my rok al ’n skakering donkerder en my basher al effens sagter van die reën is. As ek terugkyk, kan ek getuig dat dit nooit oor die fisiese reën gegaan het nie. Dit gaan oor aanpasbaarheid en deursettingsvermoë in die middel van die ongemak.
Ná skool het ek al baie moeilike oomblikke gehad waar die maklike opsie sou wees om te loop en ’n sambreel te gaan soek, maar die regte keuse, wat toe ’n veel groter impak gehad het, is om te bly en jou beste te gee ten spyte van die omstandighede. En wanneer omstandighede moeilik raak, dink ek net aan die tyd by die swemgala waar ons “The School of Helpies” sing met reëndruppels wat by ons gesigte afloop en my hare laat krul en ek herinner myself, as ’n Helpie, kan ek nie nat reën nie en mag ek nie moeg word nie.
Op my eerste dag van graad 8 het ek een van die grootste fout gemaak wat enige Welpie kan maak: Ek het voor ’n matriek op die bus geklim. Daardie oggend is die belangrikheid van respek, maniere en senioriteit vir my geleer. Tot vandag toe, is dit baie maklik om ’n Helpie of oud-Helpie te identifiseer. Hulle postuur en die manier waarop hulle hulself gedra en die mense om hulle behandel, is net anders. ’n Mens kan soveel respek vir hulleself en die mense rondom hulle opmerk. Hierdie waardes het ons van dag een af op die moeilike manier geleer en alhoewel ek graag van my eerste dag op daardie skoolbus sou wou vergeet, is ek nou dankbaar vir die les wat daardie baie kwaai matriek vir my geleer het.

Ek is nou al drie jaar lank ’n oud-Helpie. Op skool het ek geglo dat ek ná matriek vry kan wees van skool, reëls en onderwysers wat probeer om raad te gee oor situasies wat hulle nie verstaan nie. Ek het egter in hierdie drie jaar geleer dat ék die een was wat nie die groter prentjie verstaan het nie. Ek sal nooit heeltemal vry wees van Helpmekaar Kollege nie en daarvoor is ek ewig dankbaar, want as ’n student kan ek terugkyk en sien dat dit die Helpie Way is wat deel vorm van die stewige fondasie waarop ek my lewe bou en my drome najaag.




Comments