top of page

Morele waardes die kern van ons menswees

  • Inge Vermaak
  • Apr 8
  • 2 min read


Die menslike DNA is 99,9% identies. Die kleur van ons oë, ons hare, voorkoms, gedrag en selfs kwesbaarheid vir siektes word deur die 0,1% van ons genetika bepaal. Ons deel dieselfde ervarings vanaf geboorte wat liefde, pyn, verlies en die dood insluit. Dit is egter ons morele waardes wat die kern van ons menswees vorm en alhoewel die mens baie eenders is, bestaan daar die universele persepsie dat die spektrum van morele waardes ʼn groot wig tussen ons dryf. Mense het egter universele waardes, gedeelde ervarings en selfs dieselfde breinstruktuur wat bewys dat hierdie spektrum eintlik nie so groot is soos wat ons dink nie.


Volgens antropoloë by die Oxford universiteit in ʼn artikel gepubliseer op 11 Februarie 2019, is daar sewe vasgestelde universele morele waardes in mense wat bepaal is na ʼn ondersoek op 60 verskillende kulture. Help jou medemens, toon empatie teenoor ander, wees eerlik, ensovoorts. Die mense om ons kan egter soms bietjie uitdagend wees - byvoorbeeld as jou bure tot laat in die aand ʼn groot partytjie hou en jy elke woord van hulle musiek kan hoor. Maar tog bewys die navorsing dat ons almal geprogrammeer is om altruïsme te toon.


Ons morele waardes word ook geraak deur die samelewing en ons gedeelde menslike ervarings. Laasgenoemde sluit in geboortes, sterftes en die viering van mylpale. Hierdie ervarings lei ons om morele waardes te ontwikkel wat ons help om die lewe se uitdagings aan te durf. PubMed Central beweer egter in ʼn onlangse artikel, op 13 Desember 2021, dat morele waardes ook grootliks beïnvloed word deur die samelewing. Ons etiese beginsels is deur die jare gevorm as ʼn verwagting van die gemeenskap en nie ʼn aanpassing nie. Byvoorbeeld die beginsel wat universeel in vele kulture voorkom vanaf ongeveer 2040 jaar voor Christus – behandel ander soos wat jy behandel wil word.


Die menslike morele waardes is die element wat ons as ʼn spesie verenig.  Ons sien daagliks hoe vreemdelinge mekaar tydens noodgevalle help, ons sien hoe mense hul eie besittings skenk vir minderbevoorregtes en ons sien hoe ons keuses ʼn groot impak op die mense om ons kan hê, selfs al deel jy net jou toebroodjie met iemand wat hulle kosblik by die huis vergeet het. Kofi Annan som hierdie gedagte mooi op: “Ons mag dalk verskillende gelowe hê, verskillende tale, verskillende velkleur, maar ons almal behoort aan een menslike spesie.”

Comments


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page