top of page

Liewe Afrikaans #4

  • Marli du Preez
  • May 7
  • 1 min read

Updated: Aug 15

ree

Jy is 'n 100, Afrikaans. ʼn Eeu – vir my as skoolkind  ʼn onbegryplike tyd, maar tog is jy nog so jonk. My ouma is ook in 1925 gebore, net twee generasies van my verwyder. Jy was saam met haar daar in die kombuise en op die strate, gevorm deur die hande en harte van gewone mense. ʼn Taal wat uit nood gebore is, maar steeds gevul is met rykdom en wonder.

 

Jy is die taal van die werkers – ʼn taal wat soms geminag is, maar nooit kon verdwyn nie. Met jou eenvoud kom daar ʼn soort prag wat net jy kan gee. Hoeveel ander tale het ʼn woord soos “lekker” wat alles van smaak tot gevoel beskryf? En jou verkleiningsvorme – jy het woorde klein gemaak nie omdat hulle klein is nie, maar omdat jy dit naby aan die hart bring.

 

Daar is iets aan jou ritme en klanke wat soos ʼn lied deur my gedagtes speel. Jy is die taal waarin ek die wêreld sien en verstaan, die taal waarin ek liefhet en droom. Jy gee vir my ʼn manier om dinge te noem wat vir ander onbenoembaar bly. Jy gee vir my woorde wat betower en wat onthou.

 

Soos my ouma het jy my grootgemaak: my geleer, getroos en beskerm. My moedertaal wat my omhels om die wêreld ʼn bietjie warmer, ʼn bietjie vriendeliker, en ʼn bietjie meer tuis te laat voel.

 

Afrikaans, mag jy nog lank leef, groei en ontwikkel, en mag jy bly om ons harte met jou deernis en skoonheid aan te raak.

 

Marli du Preez

Gr. 11

コメント


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page