top of page

Lang pad na die onderwys die moeite werd

  • Paul Bester
  • Aug 7, 2025
  • 2 min read
Me. Lenke Kruis is op haar gelukkigste in die klaskamer. Foto: Wind Photography
Me. Lenke Kruis is op haar gelukkigste in die klaskamer. Foto: Wind Photography

Me. Lenke Kruis, vakhoof van Lewenswetenskappe en noodhulp-juffrou, het eers later in haar lewe haar liefde vir onderwys ontdek. Paul Bester pols haar oor haar loopbaankeuse en lewensuitkyk: “nou is nie vir altyd nie.”

 

Me. Lenke het oorspronklik genetiese ingenieurswese aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer. “Ek wou mense help wat nie kinders kon kry nie,” sê sy oor dié studierigtingkeuse. Haar oë was egter te ligsensitief vir die mikroskoopwerk en sy moes noodgedwonge van studierigting verander. Nadat sy al haar opsies oorweeg het, het sy “die graad gekies met die lekkerste uitstappie.” Ekologie. Twee weke by die see vir navorsingsdoeleindes. Daarna voltooi sy ’n honneursgraad in dier- en waterkunde. Sy aanvaar ’n pos by ’n mynboumaatskappy, waar sy sintetiese vleilande help bou het om die water in die Limpoporivier, wat in die myne gebruik is, te rehabiliteer. Ná ’n jaar doen sy aansoek vir ’n FW-onderwyserpos by Helpmekaar Kollege.


“Ek het net nie ’n passie vir my werk gehad nie,” gee sy as die rede vir haar skuif na die onderwys. Sy het wel ʼn paar opwindende staaltjies uit hierdie tyd, soos die keer toe sy amper deur ’n seekoei gevang is: “Hulle het vir my gesê die seekoeie was ver af in die rivier. Toe klim ek in en daar sien ek sy kop opkom!” Daar is egter min dinge wat die raakvat juffrou, wat ook spog met ʼn meestergraad in biogeochemie.

 

Me. Lenke is dankbaar dat sy die langer roete gevolg het om uiteindelik ’n onderwyser te word. Haar 13 jaar se akademiese reis het haar waardevolle insig gegee in die praktiese toepassing van wetenskap – kennis wat sy met entoesiasme aan haar leerders oordra. Sy glo haar verhaal bewys dat dit nooit te laat is om jou ware passie te volg nie, en dat jou studierigting aan die einde van matriek nie jou lewenspad finaal bepaal nie.

 
 
 

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page