top of page
  • Inge Vermaak

Koorleier droom van Grammy-toekenning

Die dirigent van ’n koor wat ’n goue medalje by die Wêreldkoorspele gewen het, is sedert vanjaar ook aan die stuur van Helpmekaar Kollege se koor. Inge Vermaak het hom uitgevra.


Helpmekaar Kollege se koordirigent, Mnr. Franco Prinsloo, het die Vox-kamerkoor in 2017 gestig en is steeds hul dirigent. Dié koor, wat die Safta-genomineerde klankbaan van die reeks Donkerbos opgeneem het, spog met agt albums en ’n goue medalje in die Wêreldkoorspele (2018). Hy rig ook ander kore, soos die Akademia-universiteitskoor, af.


Mnr. Prinsloo kom uit ’n musikale familie. Hy onthou hoe hy as kind saam met sy ouma orrel gespeel het. Hy het musiek aan die Noordwes-Universiteit gestudeer en sy kwalifikasies sluit ’n genootskap in komposisie van die London College of Music in. In 2019 het Mnr. Prinsloo die Nedbank Impact-toekenning vir jong kunstenaars vir sy bydrae tot die kunste gewen. “Al die wonderlike mense waarmee ek werk, inspireer my om musiek te maak,” sê hy.


Sy grootste doelwit is om ’n Grammy of Oscar te wen, maar die pad na sukses is nie sonder struikelblokke nie. “Ek dink vir meeste musikante is die grootste uitdaging om jouself toe te laat om 100% die musiek te kan geniet. Baiekeer sukkel mens met spanning voor ’n gehoor of bekommer jy jouself oor wat ander van jou dink, maar dit is eers wanneer jy totaal jouself deur die musiek laat lei en jy loskom van die ego, of van spanning, dat die musiek waarlik begin praat.”


Benewens sy belangstelling in musiek is Mnr. Prinsloo ’n kranige reisiger wat al vele lande besoek het. Hy is ook lief vir die wildtuin, braaibroodjies en braaivleis.

Besoek gerus die Vox-kamerkoor se webtuiste (voxchamberchoir.com) om Mnr. Prinsloo beter te leer ken.

Comments


bottom of page