Kies reg: Die toekoms wag
- Almay Erasmus
- Jun 18, 2025
- 2 min read
Updated: Aug 13, 2025

Teen die tyd wat 'n leerder graad 11 bereik, begin 'n vraag gereeld kop uitsteek: “Wat gaan jy ná skool doen?” Vir baie is dit nie net 'n gewone vraag nie, maar 'n skerp herinnering aan die realiteit van groot besluite wat wag om geneem te word. Die druk om te weet wat om ná matriek te doen, neem toe – van ouers, onderwysers, vriende en selfs die samelewing. Hierdie druk is erg en dit plaas leerders onder enorme spanning.
Volgens Maroela Media se berig “Loopbaankeuses: Beplan reg en bou self jou toekoms” is die proses om ’n loopbaan te kies 'n komplekse uitdaging wat vroeër aandag vereis as wat baie mense dink. Vakkeuses, wat reeds in Graad 9 gemaak is, beïnvloed watter studierigtings beskikbaar sal wees ná skool. Graad 11 word dus die keerpunt waar 'n mens moet begin beplan en optree. As 'n leerder nie nou begin navorsing doen, keuses ondersoek en doelwitte stel nie, kan hy of sy maklik agter raak.
Tog is die druk om 'n “plan” te hê, nie altyd realisties nie. Nie elke tiener is op 16 of 17 gereed om hul hele lewe uit te stippel nie. 'n Artikel op Netwerk24, “Dié plan help jeug met keuses”, dui daarop aan dat organisasies soos Solidariteit Jeug intussen programme in plek gestel het om jongmense by te staan met beroepsbeplanning. Hierdie programme help met beroepsvoorligting, vakinligting en TPT-berekening (toelatingspuntetelling) en kan rigting gee aan leerders wat onseker oor hul toekoms is.
Verder het tegnologie die proses ietwat vergemaklik. 'n Afrikaanse toepassing is ontwikkel om leerders en ouers te help om ingeligte vak- en loopbaankeuses te maak. Hierdie toep toets belangstellings, gee toegang tot inligting oor beroepe, en help met keuses op grond van die leerder se sterkpunte. Sulke hulpmiddels is belangrik in 'n tyd waar werksekerheid nie meer gewaarborg is nie en beroepe vinnig verander.
Nietemin moet daar ook erken word dat keuses onder druk geneem kan word – wat tot spyt en rigtingverandering kan lei. Dit is belangrik dat leerders nie net fokus op geld of gewilde beroepe nie, maar ook op hul unieke belangstellings, waardes en sterkpunte. Selfkennis speel 'n groot rol in gesonde loopbaanbesluite. Ouers en onderwysers word aangemoedig om eerder leiding as druk te bied.
Die waarheid is dat nie alle leerders op dieselfde tyd reg is om ’n finale besluit te neem nie. Wat egter wel nodig is, is geleenthede, ondersteuning en toegang tot betroubare inligting. Graad 11 is die ideale tyd om vrae te begin vra en te beantwoord asook om ruimte te hê om onseker te wees, terwyl jy steeds op soek is na jou pad vorentoe.



Comments