Hoe om die regte vakke te kies
- Kayla Wolfaardt
- Feb 14
- 2 min read

Die korrekte vakkeuses is een van die belangrikste besluite wat jy as ’n hoërskoolleerder moet neem. Dit beïnvloed nie net jou loopbaanopsies en toekoms nie, maar ook jou geluk en sukses in jou studies.
Mareli Bothma, bestuurder van Solidariteit se skoliere-aanbod, beklemtoon die belangrikheid daarvan dat ouers en kinders moeite moet doen om die regte vakke te kies om sodoende optimale prestasie op skool te verseker. Hoe kies mens egter vakke indien jy nog nie besluit het op ’n loopbaanrigting nie?
As jy graag na ’n universiteit wil gaan, moet jy vakke kies waarin jy goed genoeg sal slaag om sodoende aansoek te kan doen vir universiteitstoelating. Dit is belangrik om jou opsies oop te hou aangesien dit ’n groot impak op jou toekoms het. Hoe wyer jou vakkeuse, hoe meer opsies het jy ná matriek. Sekere kursusse op universiteite vereis dat spesifieke vakke op hoërskool geneem moet word, dus is deeglike navorsing krities.
Volgens matriek.co.za is daar ’n paar riglyne wat oorweeg kan word om die regte vakke te kies:
· Kyk na jou huidige punte en bepaal of jy die vereiste punte sal kan kry vir die vakke wat jy oorweeg.
· Bepaal of die vakke wat jy oorweeg om te neem asook die loopbaan wat jy wil volg by jou persoonlikheid pas.
· Hou in gedagte hoe die werksomgewing in die toekoms gaan verander. Nuwe loopbane word daagliks gevestig, terwyl ander loopbane uitbrei of selfs tot niet gaan.
· Kry raad by SAQA (South African Qualifications Authority) of voltooi ’n aanlegtoets indien jy steeds onseker is oor watter vakke om te neem.
Die regte vakke skep ’n fondasie waarop jy kan begin beplan en bou en sodoende jou toekomsplanne bemeester.
Wenke om vakke te kies:
· Bepaal waarin jy uitblink asook jou sterkpunte.
· Kyk na vorige prestasie en punte om jou vaardighede, vermoë, toewyding en entoesiasme te beoordeel om die nodige resultate te kry om verder te kan studeer.
· Kies ’n wye verskeidenheid van vakke om jou loopbaankeuse oop te hou.
· Kies vakke wat jou kritieke vaardighede sal aanwakker.
· Hou in gedagte dat die werksplek gedurig verander.
· Kry hulp by ’n loopbaanadviseur en voltooi ’n aanlegtoets of besoek die SAQA- webtuiste vir raad rakende potensiële loopbane.
Bronne:
Comments