top of page
  • Elizabeth Kruger

Groot, groter, #PRODUKSIE2022

Na twee jaar van Covid-19-inperkings, wat beteken het dat die Produksie op die groot skerm vertoon moes word in 2020 en in 2021 uitgestel is, is Helpmekaar se Dis100+1-produksie uiteindelik op die planke gebring. Hierdie jaar se Produksie het die nostalgie van die laaste honderd jaar opgeroep en elke dekade is deur ’n ander Afrikaanse familie uitgebeeld. Goue treffers soos Agter Elke Man, Sonbrilletjies, Dis ʼn land, Enkeling en Ruiter van die Windjie het die hartsnoere geroer.


Dis100+1 is deur mnr. Werner Smit geskryf met die oog op Helpmekaar se 100-jaarfeesvieringe. Die teks het die gehoor se gedagtes aangegryp aangesien dit die pad wat Helpmekaar, Afrikaans en Suid-Afrika tot hier gestap het met sang en dans gevier het. Mnr. Eghard Basson was die regisseur, mnr. Pieter McLea, musiekregisseur, met choreografie wat deur me. Nicolene Pienaar behartig is. Me. Pienaar vertel dat sy baie navorsing gedoen het oor elke era om die regte gevoel vir elke dans te verseker. “Ek het elke oomblik van die proses geniet,” sê sy. Vir me. Talitha van Buren, was die Produksie ʼn onvergeetlike “eerste” vir ʼn nuwe Helpie-onnie. “ʼn Skouspel van verhoogligte, blink kostuums en jare se soete herinneringe.” Vir me. Heilina Wiid, ouer van ʼn gr. 11- Helpie, was hierdie jaar se Produksie verseker een van die bestes. “Om weer die Helpie-way en kultuur van samesyn te beleef. Wat 'n voorreg!”


Die Produksie het wel ook uitdagings beleef. ’n Week voor die Produksie is besluit om die tonele te verfilm, aangesien die ruiling van die stelle vir die verskillende families van elke dekade te veel plek op die verhoog opgeneem het. Die spelers moes

Net een van die baie skouspelagtige tonele van 2022 se Produksie. Foto: Marizanne Degenaar.

hulle taktiek verander om by die verfilming aan te pas, omdat die kamera nader as ’n gehoor is en dus baie sterker emosie optel. “Die verfilming was so bietjie van ’n uitdaging, omdat dit lank gevat het,” sê Lehan Kruger (gr. 11) wat ’n pa in die Produksie vertolk het. Hy moes ook sy taktiek tydens die verfilming van die Produksie verander het, vertel hy. Margitte Kirstein (gr. 11) een van die choreograwe vertel dat vir haar is Dis100+1 “die somtotaal van almal agter die skerms wat hul werk doen, maak nie saak hoe klein nie. Dit is juis hierdie mense wat elke jaar die Produksie laat werk”.


2022 se Produksie is beslis een vir die boeke en 'n skouspelagtige terugkeer na die "Produksie-gees" waarvoor Helpies lank moes wag.




Related Posts

See All
bottom of page