top of page

Grindelwald, so reg uit ʼn sprokiesverhaal

  • Charlie Baard
  • Aug 13
  • 2 min read

Updated: Aug 14

'n Besoek aan Grindelwald sal jy nie sommer gou vergeet nie. Foto: Switzerland Tourism.
'n Besoek aan Grindelwald sal jy nie sommer gou vergeet nie. Foto: Switzerland Tourism.

Bo in die Alpe, tussen groen reusagtige berge en die harde koue gletsers, tussen kronkelende bergstroompies lê daar ʼn dorpie.  ʼn Dorpie reg uit ʼn sprokiesverhaal of ʼn heerlike droom.


Met ʼn vlug en ʼn treinrit deur die Alpe kan jy die droomdorpie in die hartjie van Switserland sien. Grindelwald lê in die middel van die Alpe en is omring deur pragtige groen berge met die Eiger wat voor jou uittroon.

Daar is baie restaurante, hotelletjies en winkels reg deur die dorp en daar is vele aktiwiteite om te doen, maar ek gaan fokus op ons avontuur by die Grindelwald-First.

Grindelwald-First offer vele aktiwiteite om van te kies om die prag van die Alpe te beleef saam met ʼn bietjie adrenalien.  Twee aktiwiteite plus die staproete kos 93 Switserse Frank per persoon en 57 vir kinders tussen die ouderdomme van 6-15.


Dit is ideaal om vroeg in die oggend die avontuur te begin sodat jy nie in rye hoef te wag nie en die dag voluit kan benut.          


Eerste vat mens ʼn opwindende kabelkarretjie tot bo-op die berg. My hoogtepunt is die 6 km. stap na die meer Bachalpsee. Dit is ʼn beeldskone meer wat tussen die berge lê en dit soos ʼn spieël reflekteer. As jy in die somer gaan maak seker dat jy swemklere saamneem  Na die stap, is dit wonderlik om in die yskoue Bachalpsee te swem en af te koel.

Na die stap kan jy jouself met ʼn koeldrank bederf en kyk hoe die avontuurlustiges met die zip line van die berg af gly.  Ons het gekies om met ʼn bergkarretjie (amper soos ʼn kaskar) by die berg af te ry. Dit is beslis ʼn uitsonderlike ervaring om by die paadjie af te ry en te kyk na die beeldskone Switserse natuur. Pasop net dat jy nie in een van die koeie vasry nie! Na die rit, is mens halfpad by die berg af en is dit tyd vir middagete. Ek stel voor jy geniet ʼn tradisionele switserse bratwurst.

Na ete, het ons draffietsies gebruik om tot onder die berg te kom tot in die middel van die dorpie. Dit was net soveel pret!


Grindelwald is ʼn pragtige dorpie en ʼn moet tydens ʼn besoek aan Switserland.

 
 
 

Comments


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page