top of page

Duitsland: Meer as schnitzel en motors

  • Lienke Olivier
  • Jul 2
  • 2 min read

Duitsland, bekend as “die land van die mense,” hou baie verrassende feite in en dit gaan nie net oor hulle wêreldklas motors of smaaklike schnitzel nie. Lienke Olivier en Wian Wilson het ʼn paar interessanthede van die land en veral die taal onder die loep geneem.


Een van die grootste eerstes in Duitsland is dat hulle die eerste land geword wat dagligbesparingstyd ingestel het. Op 6 April 1916 het die Federale Raad van Duitsland ʼn bevel goedgekeur wat ʼn verandering in die horlosies beveel het om ʼn uur daglig by die dag te “voeg” gedurende die maande van Mei tot September.


Nog ʼn feit van dié land is dat hulle die smalste straat in die wêreld het. Geleë 32km. suid van Stuttgart, trek die stad Reutlingen nie veel aandag nie, want dit is beter bekend vir sy uitgebreide tekstielbedryf eerder as enige spesifieke toeriste-aantreklikheid. Nietemin, volgens die Guinness World Records, is die stad die tuiste van die wêreld se smalste straat, Spreuerhofstaβe. Die “straat” wat eintlik net ʼn gaping tussen twee geboue is, se minimum breedte is ongeveer 31cm, terwyl sy breedste deel op 50 cm piek.


Die Duitse taal is werklik “die orgaan onder al die tale” soos deur die Duitse skrywer Jean Paul beskryf, veral in Europa, waar dit die taal is met die meeste moedertaalsprekers (selfs meer as Engels of Frans). Duits beskik ook oor van die langste woorde, soos “Rindfleischetikettierungsüberwachungsaufgabenübertragungsgesetz” (ʼn wet wat vleisetikettering beskryf) óf “Donaudampfschifffahrtsgesellschaftskapitän” (kaptein van die Donau-stoombootmaatskappy) as gevolg van die lang samestellings waaruit Duits bestaan. Daarby het Duits ook ʼn klomp woorde wat moeilik vertaalbaar is, soos bv. fernweh, wat ʼn verlange na verre plekke (dikwels fiktief) beskryf.


Duits het meer as 65 dialekte, wat so verskillend is dat van die dialekte amper as aparte tale beskou kan word. Van die bekendste Duitse dialekte is Hochdeutsch, Beiers (Oos-Duitsland en Oostenryk), Swabies (Baden-Württemburg), Swisterduits (Switserland) en vele meer.


Talle algemene Engelse woorde kom oorspronklik van Duits, soos “kindergarden”, “doppelgänger”, en “rucksack.” Verder staan Duits ook bekend as die taal van filosofie en wetenskap. Filosowe, soos Friedrich Nietzsche en Martin Heidegger, was Duits en het gedink en geskryf in Duits. Duits is ook ʼn wetenskaplike en akademiese taal. Voor die tweede Wêreldoorlog was meer as helfte van die wetenskaplike publikasies in Duits geskryf. Wetenskaplikes, soos Albert Einstein, Max Planck en Wilhelm Röntgen, is almal in Duitsland gebore.

 

Nog fassinerende feite:

·   Baie kastele: Duitsland het meer as 20 000 kastele! Sommige is antiek en vol geskiedenis, terwyl ander soos sprokies lyk, soos Neuschwanstein, wat inspirasie was vir Disney se Slapende Skoonheid-kasteel.

·     Die tuiste van die Kersmark: Duitsland is wêreldbekend vir sy pragtige Kersmarkte. Die Christkindlesmarkt in Neurenberg bestaan al sedert 1628 en trek steeds besoekers van regoor die wêreld.

·      Uitvindersland: Duitsland is bekend vir sy briljante uitvinders. Hulle het bygedra tot groot innovasies soos die motor (Carl Benz), die drukpers (Johannes Gutenberg) en X-strale (Wilhelm Röntgen).

 


Comments


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page