top of page
Marcus Ballot en Simonne van der Vyver

Dirigente bring die gees!

Daar is geen twyfel dat die dirigente hulle taak om die skool saam te bring en die gees

na hoër hoogtes te neem ernstig opneem nie. Zia Hartzer (gr. 12) is een van 2023 se

passievolle dirigente. Zia vertel van die dag toe sy aangekondig is as dirigent van 2023:


“Ek het dit glad nie verwag nie, omdat ek so laat in die skool ingekom het, maar ek was baie gelukkig gewees om die skool se gees te help dra.” Sy vertel dat dit ʼn

“hoendervleis-ervaring” is om die gees van die skool te dra. “Almal voed op hoe vol energie die dirigente is”. Zia moedig ook ander Helpies aan om iets te doen waarvan hulle hou of passievol is, want na ʼn rowwe dag by Helpmekaar is dit dalk al wat mens nodig het.



Nog ʼn dirigent, Pedri de Wet (gr. 12), sien die meeste daarna uit om aan die begin van

ʼn byeenkoms voor almal op die veld uit te hardloop en dan te sorg dat die skool ʼn

dawerende lawaai maak, ʼn soort dreuning wat geen opponent gou kan vergeet nie.

Hy geniet dit ook wanneer hulle as dirigente voor die hele skool staan om saam die

skoollied te sing. “Mens kan die trots in almal se oë sien.” Pedri meen dat sy

gunstelingkreet “Brood” is, want: “die skool sing dit met die meeste passie.”

Nog ʼn dirigent wat net so mal oor “Brood” is, is Tamni Labuschagne (gr. 12). Tamni

noem dat sy dit die meeste geniet wanneer die hele skool bankvas agter ʼn atleet is en

hom of haar so aanmoedig met hulle krete, dat mens nie kan help om hoendervleis te

kry nie.

Dit maak haar trots as die hele skool saamskree. Sy is vasberade om saam met die

span dirigente “die skool lus te maak vir geesvang.”

Comments


bottom of page