top of page
  • Anika Nel

Bernice West, die nuwe musiek-legende


Bernice West het in ʼn relatief kort tydjie haar unieke stempel op Afrkaanse musiekgenre afgedruk. Foto: verskaf.

Op die ouderdom van 16 skryf Bernice West haar eerste volledige liedjie, op 20 publiseer sy haar eerste treffer. Nou, op 22, deel sy haar passie en talent vir musiek met almal. Die nuwe legende het haar roem gekry toe sy op KykNet se “Maak My Famous” verskyn het. Anika Nel gesels bietjie met West om haar raad en toekoms-drome oor die musiekbedryf te hoor.


As jy jou musiekstyl en liedjies moet opsom in drie woorde vir mense wat nie jou musiek ken nie, wat sal dit wees?


Lucky packet, eksentriek, uniek.


Jou musiekvideo’s is iets besonders om na te kyk, het jy reeds ‘n idee van hoe dit gaan uitspeel wanneer jy nog besig is om die liedjie te skryf, of gebeur dit eers nadat die liedjie klaar is?


Gewoonlik eers wanneer die liedjies klaar geskryf is. Ek luister weer daarna en hoor die storie.


“Sonop-Blom”, jou eerste liedjie, is op 13 Maart 2020 gepubliseer. Het jy voorheen liedjies geskryf wat die wêreld nog nie gehoor het nie?


Ja. Ek het al begin skryf toe ek in die laerskool was, maar ek het nooit daardie liedjies klaar geskryf nie. Ek was in graad 10 toe ek my eerste liedjie klaar geskryf het.


Wie is jou rolmodel in die musiekbedryf en hoekom?


Ek dink omdat ek so jonk is, is daar baie mense waarna ek opkyk en hoe hulle die bedryf hanteer. Ek dink nie die bedryf is baie maklik nie en ek sê dit met ‘n goeie hart. Daar is ‘n klomp mense, maar as ek na die SuidAfrikaanse musiekbedryf kyk, sal dit Karen Zoid, Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Early B, Elandré en Riaan Benadé wees.


Wanneer jy nie besig is om liedjies te skryf, is jy op die verhoog. Hoe verskil dit om saam met ander akteurs te speel teenoor om alleen te sing?


Ek het ‘n liefde vir albei. Saam met die musiekblyspel kom drama, waaroor ek mal is. Dit is ʼn script wat jy leer en jy klim in ‘n ander karakter in, maar ek hou definitief meer van die sang wanneer dit by my persoonlike goedjies kom. Dit is net meer ek.


Hoe baie en hoe vinnig het jou lewe verander tussen nou en voordat jy op “Maak my famous” was?


Ongelooflik baie. Ek was nog ‘n skoolkind toe ek begin net met “Maak my famous”. Ná dit, het ek direk in die bedryf ingestap. Dit was nie maklik nie, maar ek moet sê, die Here het regtig goeie mense oor my pad gestuur wat my baie gehelp het om die paadjie makliker te maak.


Jy toer nou rond en deel jou passie vir musiek met ander. Wat is jou gunstelingdeel daarvan om voor ‘n lewende gehoor op te tree?


As hulle saamsing. Ek dink as mens kan voel dat die musiek vir hulle ook iets beteken, maak dit jou hart so warm.


Wat sou jy vir iemand sê wat nou nuut in die bedryf instap en nog nie lekker hulle voete gevind het nie?


Ek weet almal sê dit en dit klink so cliché, maar moet nooit opgee nie. Ek het een keer so ‘n prentjie van ‘n man gesien wat grawe onder die grond op soek na ‘n diamant en toe gee hy op net voordat hy by die diamant sou uitkom. Dit is regtig so, mens kom op ‘n punt waar jy wil opgee, maar mens gaan nooit jou diamant kry as jy opgee nie.


Jy werk tans aan ‘n nuwe projek waar julle koffie, live musiek en lekker kos alles bymekaar gebring het. West Café is julle nuwe kafee wat amper gaan oopmaak vir die publiek. Vertel my bietjie daarvan.


Dit was nog altyd ‘n droom vir my en my boetie om so iets te doen. Dit is baie lekker, want baie van ons familie is saam met ons betrokke daarin. Ons is almal baie lief vir koffie en baie lief vir musiek, so ons het net gevoel dat ons dit moet saamsit. Dit moet ’n plek wees waar almal kan kom ontspan en deel voel van die gemeenskap.


Wat wag in die pyplyn vir jou beroep? Is daar iets waarna jy baie uitsien?


Ja, daar is. Ek dink elke liewe dag in die bedryf is vir my iets om na uit te sien, omdat ek nog jonk is leer ek baie. Elke dag is daar iets nuut wat ek leer en wat aan my skaaf. Jy ontdek meer van jouself en leer jouself ken. Ek sal ook definitief een of ander tyd iets in Engels wil uitbring en wie weet, dalk doen ons nog ‘n musiekblyspel.

Related Posts

See All
bottom of page