top of page
  • Ewan Basson

Agter my glimlag: Lindie Stander deel haar “liggie van hoop”



Hoe is die lewe van ʼn akteur werklik agter die skerms? ʼn Mens sou dink dat ons gunstelingsterre ʼn lewe van luuksheid, sukses en roem lei – ʼn uitspattige lewe vol partytjies en reise – maar is dit die werklikheid?


Lindie Stander, ʼn ervare aktrise, bekend vir haar rolle in Binnelanders, Hart in Bos, Vrou soek Boer en nog vele meer vertel in haar nuutste boek, Agter my glimlag, haar storie. Op die kruin van haar loopbaan besef Stander dat sy haar rolle, en haar lewe soos wat sy dit ken, kwyt is. Sy vertel die verhaal van haar lewe agter die skerms, sonder skroom of voorgee: die hartverskeurende verlies van haar pa; haar struwelinge met dwelmmisbruik en depressie; Stander vertel met deernis ʼn verhaal van hoop tydens haar uitdagings met geesteswelstand.


“My gunstelingouteur, Murakami, vang dít wat ek graag wil oorbring die beste vas: ‘Jy moet weet dat jy nie as dieselfde mens aan die ander kant van 'n storm gaan uitstap as toe jy ingestap het nie. Hou net aan stap!’”

“As iemand wat gesien word as suksesvol en well-made was dit besonders moeilik om na hulp te roep. Maar ek is net ʼn mens; iemand wat met baie donker dae gesukkel het. En die donker wink steeds gereeld. Die bestuur van my geesteswelstand bly 'n daaglikse uitdaging, nes almal anders,” vertel sy. Sy vertel ook hoe die skryf van hierdie boek ʼn groot uitdaging vir haar was en ʼn belangrike stap tot rehabilitasie. Sy vertel hoe sy haar storie so intiem en eg as moontlik wou hou. “Die proses om soveel intieme besonderhede van my lewe bloot te lê het my redelik broos laat voel, maar ek moes so eerlik as moontlik wees as ek die inhoud met integriteit wou weergee,” deel sy. Stander se boek handel oor baie persoonlike, moeilike en intieme onderwerpe. “Ek wou 'n boek met meer gravitas as 'n blote vertelling skryf. Soms moet mens maar jou big girl pants aantrek en die bul by die horings beetkry...”


Die boek vertel die verhaal van haar progressie as mens en as gebroke persoon. Sy vertel hoe sy geworstel het met emosionele bagasie en hoe haar geesteswelstand haar beïnvloed het, nie net in haar rolle nie, maar in haar alledaagse lewe. “My doel was om afskeid te neem van bagasie wat nie meer myne was om te dra nie. My lewe het 'n tipe volsirkel bereik – stampe en stote ingesluit – maar ek hoop die leser vind waarheid tussen die bladsye. Waarheid oor hul eie lewens en diegene wat ons paaie kruis. En saam met die waarheid - 'n liggie van hoop!”


In haar boek, word Stander se worsteling met depressie – oftewel die stigma-gedrewe ‘swart hond’ – blootgelê. Toe sy gevra word hoe sy dink openlike gesprekvoering en weerloosheid rakende geestelike welstand die nuwe generasie tieners en jeug van vandag kan bevoordeel, antwoord Stander: “Die swart hond is lastig, en onwelkom, in die van ons wat met hom stoei en geliefdes wat nie altyd die wroeging verstaan nie. Maar ek glo 'n boek soos myne maak die deure wawyd oop. En om 'n onopgesmukte kollig op ons tekortkominge te werp maak ons dit hopelik makliker om eerlik met onsself en met mekaar te wees. My boek beloof nie 'als gaan okay wees' nie, maar eerder 'als KAN okay wees'!”

Stander se verhaal bewys net weer hoe geliefde sterre ook maar net mens is en hoe hulle ook met dieselfde probleme as ander sukkel. Stander self glo egter dat haar lewe heel boring is en meestal bestaan uit tyd in haar huisie. Sy vertel: “Ek kook vreeslik graag die kombuis warm, lees en speel Xbox.” Sy beskryf haar lewe as afgesonder en sy glo vas dat sy juis tuis in haar afsondering voel. “Agter die skerms is ek heelwat stiller – en rustiger!”


Agter my glimlag

2022

Tafelberg

978-0-624-09344-2

R260

Comments


bottom of page